’n Abugida (van Ge'ez: አቡጊዳ ’äbugida) of alfasillabiese skrif is ’n skryfstelsel waarin opeenvolgende konsonante en klinkers as ’n eenheid geskryf word: elke eenheid is gebaseer op ’n konsonant, en die aanduiding van die klinker is verpligtend, maar sekondêr. Dit verskil van ’n alfabet, waarin klinkers dieselfde status as konsonante het, en van ’n abjad, waarin klinkers afwesig of opsioneel is. (In informele situasies word al drie skryfstelsels alfabette genoem.) Abugidas sluit die uitgebreide Brahmi-skriffamilie van Suid- en Suidoos-Asië in.
Die term "abugida" is in 1990 deur die taalkundige Peter T. Daniels voorgestel vir dié skryfstelsel.[1] Dit is ’n Ethiopiese naam van die Ge'ez-skrif, ’ä bu gi da – die eerste letters van die skrif. Soos wat Daniels die woord gebruik, verskil ’n abugida van ’n lettergreepskrif deurdat daar in laasgenoemde geen sistematiese grafiese ooreenkoms tussen foneties verwante simbole is nie. Die term "alfasillabiese skrif" is in 1997 deur die taalkundige William Bright voorgestel om die idee oor te dra dat dié soort skrif eienskappe van beide ’n alfabet en sillabiese skrif (lettergreepskrif) het.[2]