Atoomgetal | Naam | Simbool |
---|---|---|
89 | Aktinium | Ac |
90 | Torium | Th |
91 | Protaktinium | Pa |
92 | Uraan | U |
93 | Neptunium | Np |
94 | Plutonium | Pu |
95 | Amerikium | Am |
96 | Curium | Cm |
97 | Berkelium | Bk |
98 | Kalifornium | Cf |
99 | Einsteinium | Es |
100 | Fermium | Fm |
101 | Mendelevium | Md |
102 | Nobelium | No |
Die aktiniedreeks bestaan uit die 14 chemiese elemente van aktinium tot nobelium op die periodieke tabel, met atoomgetalle 89 tot 102. Die reeks is genoem na die element aktinium. Alle aktiniede is f-blokelemente. Daar is ook alternatiewe rangskikkings wat aktinium uitsluit en/of die oorgangsmetaal lawrensium insluit. Lawrensium, al is dit 'n d-blokelement, het vermoedelik eienskappe wat meer soortgelyk is aan die aktiniede as aan die oorgangsmetale. Die aktiniedreeks word in sommige definisies van die seldsame aardelemente ingesluit.
Die aktiniede vertoon minder ooreenkoms in hulle chemiese eienskappe as die lantaniedreeks. Dit het byvoorbeeld 'n groter verskeidenheid oksidasietoestande, wat aanvanklik daartoe gelei het dat daar onduidelikheid betaan het of aktinium, torium en uraan as d-blokelemente beskou moes word. Alle aktiniede is radioaktief.
Slegs aktinium, torium en uraan kom natuurlik in meer as spoorhoeveelhede in die aardkors voor. Neptunium en Plutonium is al in spoorhoeveelhede in uraanerts as vervalproduk aangetref of deur bombardering vervaardig. Die oorblywende aktiniede is in kernneerslag ontdek, of is in deeltjieversnellers gesintetiseer. Die tweede helfte van die reeks het geweldige kort halfleeftye.
Die aktiniede word gewoonlik onderaan die hoofdeel van die periodieke tabel geplaas. Indien dit deel van die hooftabel vorm, is hul posisie duideliker.
'n Organometalliese verbinding van 'n aktinied staan bekend as 'n organoaktinied.