In die chemie verwys 'n alleenpaar (of soms 'n alleenelektronpaar) na 'n paar valenselektrone wat nie met 'n ander atoom in 'n kovalente binding gedeel word nie[1] en word soms 'n ongedeelde of nie-bindende paar genoem. Alleenpare word in die buitenste elektronskil van atome aangetref. Hulle kan geïdentifiseer word deur 'n Lewis-struktuur te gebruik. Elektronpare word dus as alleenpare beskou as twee elektrone gekoppel is, maar nie in chemiese binding gebruik word nie. Dus, die aantal alleenpaar-elektrone plus die aantal bindingselektrone is gelyk aan die totale aantal valenselektrone rondom 'n atoom.
'n Enkele alleenpaar kan gevind word met atome in die stikstofgroep soos stikstof in ammoniak. Twee alleenpare kan gevind word met atome in die kalkogeengroep[Nota 1] soos suurstof in water. Die halogene kan drie alleenpare dra soos in waterstofchloried.
Die alleenpaar-konsep word gebruik in valensskil-elektronpaar-afstotingsteorie (VSEPA-teorie) wat die vorms van molekules verduidelik. Daar word ook na hulle verwys in die chemie van Lewis-sure en -basisse. Nie alle nie-bindende elektronpare word deur chemici beskou as alleenpare nie. Voorbeelde hiervan is die oorgangsmetale waar die nie-bindende pare nie die molekulêre meetkunde beïnvloed nie en dus stereochemies onaktief is. In die molekulêre orbitale-teorie is die konsep van 'n alleenpaar minder onderskeidend, aangesien die ooreenstemming tussen 'n orbitaal en komponente van 'n Lewis-struktuur dikwels nie eenvoudig is nie. Nietemin word besette nie-bindende orbitale (of orbitale met meestal nie-bindende karakter) gereeld geïdentifiseer as alleenpare. Berekeningskriteria vir die aanwesigheid van alleenpare gebruik afgeleides van die elektrondigtheid, elektrostatiese potensiaal of die elektronlokaliseringsfunksie.[2]
In die VSEPA-teorie vorm die elektronpare op die suurstofatoom in water die hoekpunte van 'n tetraëder met die alleenpare op twee van die vier hoekpunte. Die H-O-H-bindingshoek is 104,5°, minder as die 109° wat vir 'n tetraëdriese hoek voorspel word, en dit kan verklaar word deur 'n afstootlike wisselwerking tussen die alleenpare.[3][4][5] In teenstelling, in koolstofdioksied (met geen alleenpare nie) is die elektrone almal betrokke by binding en die molekule is lineêr met suurstofatome aan weerskante van die koolstofatoom.
<ref>
tag; no text was provided for refs named Goldbook2014
<ref>
tag; no text was provided for refs named Kumar
<ref>
tag; no text was provided for refs named FoxWhitesell2004
<ref>
tag; no text was provided for refs named McMurry2000
<ref>
tag; no text was provided for refs named Lee
Verwysingfout: <ref>
tags exist for a group named "Nota", but no corresponding <references group="Nota"/>
tag was found