آمودریا – Amyderýa – Amudaryo – Амударё – د آمو سيند | |
---|---|
Die Amoedarja, Turkmenistan. | |
Die Amoedarja is 'n voedingsbron vir die Aralsee. Die lande wat deels binne sy waterskeiding is, word in geel aangetoon. | |
Oorsprong | Kruispunt van Pamirrivier en Vakhsj |
Monding | Aralmeer |
Stroomgebied | Afghanistan, Tadjikistan, Turkmenistan, Oesbekistan |
Lengte | 2 400 km (1 491 myl) |
Oorspronghoogte | 326 m (1 070 voet) |
Mondinghoogte | 28 m (92 voet) |
Gemiddelde afloop | 2 525 m/s³ (89 170 vt³/s) |
Stroomgebiedopp. | 534 739 km² (206 464 myl²) |
Kaart van die Amoedarjabekken in Asië.
|
Die Amoedarja of Amoedarjo (Persies: آمودریا, Āmūdaryā; Turkmeens: Amyderýa; Turks: Ceyhun; Oesbekies: Amudaryo; Tadjiks: Амударё; Pasjtoe: د آمو سيند, da Āmú Sínd; Oud-Grieks: Ὦξος, Oxos; Latyn: Oxus) is 'n rivier in Sentraal-Asië. Dit is ook uit die oudheid bekend as die Ōxus of Oxos weens die antieke Griekse naam Ὦξος, wat afgelei is van die grootste sytak, die Vakhsj. In Middeleeuse Islamitiese geskrifte is dit telkens bekend as die Jajhoen (جيحون) – wat naamlik een van die vier riviere van die Paradys is. (Net so was die Sirdarja bekend as die Sajhoen, een van die ander riviere).
Die moderne naam is Persies, en alhoewel reeds lank so bekend in die Ooste, is dit van redelik onlangse gebruik in Westerse geskrifte; voor die 20ste eeu was slegs wisselvorme van die antieke Griekse naam algemeen bekend.
Die rivier ontspring uit twee hoofstrome in die Pamirberge (die antieke Berg Imeon) in Afghanistan en Suid-Tadjikistan — die Pamir- en die Vakhsj — en vloei sowat 2 400 km deur Noord-Afghanistan, Suid-Tadjikistan, Oos-Turkmenistan en Wes-Oesbekistan na die oorblywende Aralmeer. Die Amoedarjase opvanggebied is meer as 500 000 km² groot, maar slegs sowat 200 000 km² dra die oorgrote volume by tot die opvangs. Die jaarlikse vloei is 'n baie beskeie 74 km³ per jaar — twee keer soveel as die vloei van die susterrivier, die Sirdarja.