Amoen | ||||||
’n Tipiese uitbeelding van Amoen tydens die Nuwe Ryk, met twee pluimvere op sy kop, die anch-simbool en die was-septer. | ||||||
Soort god | Egipties | |||||
God van | Die wind; koning van die gode | |||||
Naam in hiërogliewe |
| |||||
Kultussentrum | Thebe | |||||
Simbool | Twee pluimvere, ramkop | |||||
Metgesel | Amoenet Wosret Moet | |||||
Kinders | Chonsoe | |||||
|
Amoen (ook Amon; Grieks: Ἄμμων, Ámmōn) was in die Egiptiese mitologie die plaaslike god van Thebe. Daar is sedert die tyd van die Ou Ryk oor hom en sy vrou, Amaoenet, geskryf. Tydens die 11de Dinastie (omstreeks die 21ste eeu v.C.) het hy die beskermgod van Thebe geword deur Monthoe te vervang.[1]
Ná die rebellie van Thebe teen die Hyksos en met die bewind van Ahmoses I (16de eeu v.C.) het Amoen nasionaal belangrik geword en het hy versmelt geraak met die songod, Ra, as Amoen-Ra of Amoen-Re.
Amoen-Ra het dwarsdeur die Nuwe Ryk belangrik gebly in die Egiptiese panteon (behalwe tydens die godsdiensveranderings van Achenaten). Hy het in hierdie tydperk (die 16de tot 11de eeu v.C.) die posisie beklee van die uiterste bosinnelike, selfgeskepte[2] skeppergod; hy was die kampvegter vir die armes en mense met probleme en sentraal tot persoonlike godsdiens.[3] Sy posisie as koning van die gode het hom verhef tot die punt van monoteïsme, waar ander gode feitlik manifestasies van hom geword het. Amoen-Ra en Osiris is die Egiptiese gode waaroor die meeste geskryf is.[3]
As die hoofgod van die Nuwe Ryk is Amoen ook buite Egipte aanbid, volgens die getuienis van antieke Griekse historiograwe in Libië en Nubië. As "Zeus Ammon" is hy in Griekeland met Zeus geïdentifiseer.