Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Noord-Ierland |
Distrik | City of Belfast |
County | County Antrim County Down |
Koördinate | 54°36′N 5°56′W / 54.600°N 5.933°W |
Stigting | Vroeë 17de eeu |
Stadstatus | 1888 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 115 km² |
Hoogte bo seevlak | 67 m |
Bevolking: | |
- Totaal (City of Belfast) | 281 000[1] |
- Totaal (ná hervorming in 2015) | 333 871 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 443,5/vk km |
- Urban Area | 483 418 |
- Metropolitaanse gebied | 641 638 |
Tydsone | UTC +0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 9,1 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 3,8 / 14,7 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 846 mm |
Lord Mayor (2019–20) | Cllr John Finucane |
Amptelike webwerf | Belfast |
Belfast (Iers-Gaelies: Béal Feirste, letterlik: "monding van die sandbanke";[2] Ulster-Skots: Bilfawst of Bilfaust; Skots-Gaelies: Beul Feirste) is die hoofstad en grootste stad van Noord-Ierland,[3] een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk, met 'n oppervlak van 115 vierkante kilometer en 'n bevolking van 281 000 volgens die sensus van 2011 (333 871 ná die munisipale hervorming in 2015). Die metropolitaanse gebied van Belfast (Belfast Metropolitan Urban Area) het 'n bevolking van 641 638.
Die naam Belfast is afgelei van die Iers-Gaeliese Bél Feirste ("monding van die Farset", die Ierse term feirste verwys na 'n sandbank of 'n sanderige fjord). Die stad was oorspronklik teen die Farsetrivier geleë, maar intussen is die Lagan die belangrikste rivier van Belfast. Die Farsetrivier vloei tans onder High Street en het byna in vergetelheid geraak.
Die vroegste nedersettings in die gebied dateer uit die Bronstydperk. Vanaf die 18de eeu het Belfast tot 'n belangrike stedelike sentrum in Ierland gegroei wat vandag as die administratiewe hoofstad van Noord-Ierland dien. Die nywerheidsomwenteling het van die stad 'n belangrike industriële en handelspilpunt gemaak waaraan vanweë sy indrukwekkende 19de eeuse argitektuur die bynaam Athene van die Noorde[4] gegee is, maar in die laat 20ste eeu het sy tradisionele nywerheidsbedrywe, waaronder skeepsbou, 'n groot mate van agteruitgang beleef.
Die politieke geskiedenis van Belfast is deur die konflik tussen die Protestantse en Rooms-Katolieke gemeenskappe oorheers waardeur die stad in "Protestantse" en "Katolieke" woongebiede verdeel is. Met die ondertekening van 'n vredesooreenkoms vir Noord-Ierland, die sogenaamde Goeie Vrydagooreenkoms van 10 April 1998, het die konflikpartye hul steun vir vreedsame ontwikkeling bevestig en sodoende die pad vir ekonomiese groei en die regenerasie van die middestad en die dokgebiede gebaan.