Boheme Čechy | |
---|---|
Historiese streek | |
Boheme (groen) se ligging in die Tsjeggiese Republiek | |
Koördinate: 50°N 15°O / 50°N 15°O | |
Land | Tsjeggië |
Hoofstad | Praag |
Oppervlak | |
• Totaal | 52 065 km2 (20 102 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 6 500 000 |
• Digtheid | 120/km2 (320/vk. myl) |
Tydsone | UTC+1 (MET) |
• Somertyd | UTC+2 (MEST) |
Boheme (Tsjeggies: Čechy, Duits: Böhmen, Nederlands: Bohemen, Latyns: Bohemia) was 'n land in Sentraal-Europa en is tans, naas Morawië (Tsjeggies: Morava) en Tsjeggies-Silesië, een van die drie historiese landsdele van Tsjeggië. Sy bewoners word Bohemers genoem. Die historiese hoofstad is Praag (Praha).
Boheme is in die weste van Tsjeggië geleë en word in die suide begrens deur Oostenryk, in die weste deur Beiere, in die noorde deur Sakse en die Lausitz, in die noordooste deur Silesië, en in die ooste deur Morawië.
Boheme was in sy lang geskiedenis een van die lande van die Boheemse Kroon. In teenstelling met Middeleeuse Pole, wat hom tot diplomatieke betrekkinge met die Heilige Romeinse Ryk (HRR) beperk het, het Boheme as koninkryk deel geword van die HRR se politieke raamwerk.[1] Die Boheemse koning was een van vyf sogenaamde keurvorste wat die Romeins-Duitse koning verkies het.
Vervolgens, vanaf die 19de eeu, was Boheme 'n provinsie in en die industriële kernland van die Habsburgse dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye. Tussen 1918 en 1939 en tussen 1945 tot 1992 het Boheme deel uitgemaak van Tsjeggoslowakye. Ná dié land se opsplitsing in twee onafhanklike republieke, Tsjeggië en Slowakye, vorm Boheme die groter deel van die Tsjeggiese Republiek - sowat twee derdes van die totale oppervlakte.[2] Sy ryk en veelsydige kultuur is onder meer gevorm deur die wisselwerking van Tsjeggiese, Oostenryks-Duitse en Joodse invloede.