Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Deelstaat | Massachusetts |
Koördinate | 42°21′N 71°03′W / 42.350°N 71.050°W |
Gestig op | 17 September 1630 |
Geïnkorporeer op | 4 Maart 1822 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 232,1 vk km |
- waarvan land | 125,4 vk km |
Hoogte bo seevlak | 43 m (gem.) |
Bevolking: | |
- Totaal (sensus-skatting 2020) | 675 647 |
- Bevolkingsdigtheid | 5 396/vk km |
- Stedelik | 4 382 009 |
- Metropolitaanse gebied | 4 941 632 |
Tydsone | EST (UTC -5) Somertyd: EDT (UTC -4) |
Klimaat | |
- Tipe | Kontinentale klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 10,7 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 2,0 / 28,0 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 1090 mm |
Burgemeester | Marty Walsh (D) |
Amptelike Webwerf | www.cityofboston.gov |
Boston [ˈbɒstən] is 'n stad aan die Atlantiese kus in die Verenigde State van Amerika. Dit is die administratiewe sentrum en die grootste stad van sowel die deelstaat Commonwealth of Massachusetts asook die Nieu-Engeland-streek in die noordoostelike Verenigde State met 'n geskatte bevolking van 673 184 in 2016. Boston word as die ekonomiese en kulturele sentrum van Nieu-Engeland beskou en vorm ook die middelpunt van die metropolitaanse gebied van Groter Boston wat stede soos Cambridge en Quincy insluit en met 'n bevolking van 4,5 miljoen die 11de grootste demografiese sentrum van die VSA vorm.
Die stad, wat in 1630 deur Engelse Puriteine van die Massachusetts Bay Company op die Shawmut-skiereiland gestig is, het in die laat 18de eeu 'n beduidende rol tydens die Amerikaanse Rewolusie gespeel. Net soos die Boston-slagting (Boston Massacre, 1770) en die Boston-teeparty (Boston Tea Party, 1773) het ook verskeie vroeë slagte van die Rewolusionêre Oorlog soos die Slag van Bunker Hill en die Beleg van Boston hier en in die nabye omgewing plaasgevind. In die tydperk tussen 1830 en 1865 was Boston die sentrum van die Amerikaanse anti-slawerny-beweging.
Ná die Amerikaanse onafhanklikheid het Boston tot 'n belangrike handelshawe en nywerheidsentrum ontwikkel. Boston het op verskeie terreine die voortou geneem en was byvoorbeeld die eerste Amerikaanse stad met 'n openbare skool (die Boston Latin School in 1635), 'n kollege (Harvard College in 1636 in die buurstad Cambridge) en 'n moltreinstelsel.
Vanaf die 19de eeu het Boston as 'n sentrum van kunste en geleerdheid gefloreer wat aan die stad die bynaam "Athene van Amerika" besorg het. 'n Verskeidenheid museums, biblioteke en simfonie-orkeste is in dié tyd gestig wat steeds 'n sentrale rol in Boston se kulturele lewe speel en aangevul word deur 'n lewendige moderne musiek- en kunsbedryf. Invloedryke akademiese instellings verseker dat Boston se leefstyl eerder deur innovatiewe kuns en argitektuur as deur geld of politiek gedryf word.[1] Die stad se ryk historiese en kulturele erfenis lok jaarliks meer as 16 miljoen toeriste.
Danksy landaanwinningsprojekte en die inlywing van aangrensende nedersettings het Boston buite die skiereiland uitgebrei. Met sy talle kolleges en universiteite in die stads- en aangrensende gebiede is Boston vandag 'n sentrum vir hoër onderwys en gesondheidssorg. Die plaaslike ekonomie steun op navorsing, finansiële dienste en tegnologie (waaronder veral biotegnologie). As gevolg van sy opknappingsprogram het Boston talle stadsbuurte gerestoureer, maar tegelykertyd tot 'n stad met relatief hoë lewenskoste ontwikkel – veral nadat die beperking van huurvlakke deur owerheidsliggame in die 1990's gestaak is.
Baie mense meen die stad is minder raserig en meer ontspanne as ander Amerikaanse stede. Dit is bekend vir sy mooi ou baksteengeboue (Boston brownstones). In en om Boston is daar vele beroemde universiteite en kolleges, onder meer Harvard en die Massachusetts Institute of Technology (MIT).[2]