Die Britse troonopvolging word bepaal deur afstamming, geslag (vir mense wat voor Oktober 2011 gebore is), geboorte binne die huwelik, en godsdiens. Volgens die gemene reg word die troon geërf deur ’n individu se kinders en deur ’n individu sonder kinders se naaste bloedverwant. Die Handves van Regte 1689 en die Act of Settlement 1701, wat albei in Maart 2015 aangepas is, beperk die opvolging tot die wettige Protestantse afstammelinge van Sophia van die Palts wat in gemeenskap met die Anglikaanse Kerk is.[1] ’n Huwelik met ’n Rooms-Katoliek sluit iemand nie meer uit nie. Protestantse afstammelinge van mense wat uitgesluit word omdat hulle Rooms-Katoliek is, het ook steeds ’n aanspraak op die troon.[2]
Koning Charles III is die huidige monarg en sy regmatige erfgenaam is sy oudste seun, William, Prins van Wallis. Ná hom volg sý oudste seun, prins George van Wallis; en dan prinses Charlotte van Wallis, George se suster, en sy jonger broer, prins Louis van Wallis. Die vyfde aanspraakmaker is prins Harry, die jongste seun van Charles III. Daarna volg sy twee kinders. Agste is prins Andrew, Hertog van York, die koning se jonger broer.
Die Verenigde Koninkryk is een van 16 Statebondryke. Elkeen van dié lande het dieselfde monarg en dieselfde volgorde van aanspraak op die troon. In 2011 het die eerste ministers van die ryke eenparig besluit om die opvolgingsreëls op dieselfde manier aan te pas sodat seuns nie meer voorkeur kry nie (vir mense wat ná die datum van die ooreenkoms gebore is) en ’n huwelik met ’n Rooms-Katoliek nie meer iemand uitsluit van opvolging nie, maar die monarg moet steeds in gemeenskap met die Anglikaanse Kerk wees. Die veranderings het op 26 Maart 2015 in werking getree.