Bronkode word in sagteware-ontwikkeling gebruik om 'n reeks stellings en/of verklarings voor te stel in 'n formaat wat maklik deur mense gelees kan word deur die toepassing van 'n betrokke programmeertaal.[1]
'n Rekenaarprogram word gewoonlik saamgestel uit een of meer tekslêers. Dele van 'n program kan ook gestoor word in 'n databasis as 'n gestoorde prosedure of selfs brokkies kode in verskeie media.
Sommige rekenaarstelsels is meer ingewikkeld as ander en verg dan meer beheer oor die bronkode. In sulke gevalle is dit moontlik dat 'n span ontwikkelaars toegang het tot dieselfde stel bronkode. Dit kan lei tot probleme indien een ontwikkelaar die veranderings van 'n ander oorskryf. In sulke gevalle word 'n bronkodebeheerstelsel gebruik.