'n Burgeroorlog is 'n oorlog waarin die strydende partye burgers van dieselfde land of ryk is. Burgeroorloë word dikwels om godsdienstige, etniese of politieke redes gevoer, maar is soms slegs 'n stryd tussen mededingende groepe. Die doel van een kant kan wees om beheer oor die land of streek te neem, onafhanklikheid vir 'n streek te bereik of om regeringsbeleid te verander.[1] Die stryd kan met 'n bloedbad of selfs volksmoord gepaardgaan. Burgeroorloë lei dikwels tot 'n lang voortslepende stryd. As gevolg hiervan eis die deursnee-burgeroorlog 'n hoë tol aan menselewens.[2]
'n Burgeroorlog is 'n hoë intensiteitskonflik, wat gereeld gewapende magte behels, wat volgehoue, georganiseerde en op grootskaal is. [3] Die burgeroorloë wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevoer is, het gemiddeld net langer as vier jaar geduur. Dis 'n dramatiese styging van die een-en-'n-half jaar gemiddelde vir die tydperk 1900–1944.[4] Terwyl die aantal nuwe burgeroorloë sedert die middel van die 19de eeu relatief bestendig gebly het, het die toenemende duur daarvan tot 'n toename in die aantal burgeroorloë wat op 'n gegewe tyd gevoer word gelei. As voorbeeld was daar nie meer as vyf gelyklopende burgeroorloë in die eerste helfte van die 20ste eeu nie, terwyl daar meer as 20 konkurrente burgeroorloë net voor die einde van die Koue Oorlog was.
Sedert 1945 het burgeroorloë tot die dood van meer as 25 miljoen mense, asook die gedwonge verplasing van miljoene meer, gelei. Burgeroorloë het verder tot die ekonomiese ineenstorting van verskeie lande, soos Somalië, Burma (Myanmar), Uganda en Angola, gelei.[5]