Cicero | |
---|---|
Cicero, bekende spreker en een van die grootste Latynse skrywers ooit | |
Gebore | Marcus Tullius Cicero 3 Januarie 106 v.C. |
Sterf | 7 Desember 43 v.C. |
Nasionaliteit | Antieke Romeins |
Beroep | Filosoof, staatsman, regsgeleerde, politieke teoretikus en konstitusionalis |
Bekend vir | Toesprake: In Verrem, In Catilinam I-IV, Philippicae Filosofie: De Oratore, De Re Publica, De Legibus, De Finibus, De Natura Deorum, De Officiis |
Marcus Tullius Cicero (uitspraak in Klassieke Latyn: ˈkikeroː; 3 Januarie 106 v.C. – 7 Desember 43 v.C.) was 'n Romeinse filosoof, staatsman, regsgeleerde, politieke teoretikus en Romeinse konstitusionalis.[1] Hy is in 'n ryk stedelike familie van ridderstand gebore, en is algemeen as een van Rome se vernaamste redenaars en prosaskrywers beskou.[2][3]
Hy het die Romeine bekendgestel aan die hoofstrominge van Griekse filosofie en het 'n Latynse woordeskat daarvoor opgestel, wat neologismes bevat het soos humanitas, qualitas, quantitas en essentia,[4] en hom onderskei as 'n taalkundige, vertaler en filosoof. Alhoewel hy 'n imponerende redenaar en suksesvolle regsgeleerde was, het Cicero nogtans sy politieke loopbaan voorgehou as sy vernaamste onderskeiding. Vandag word hy hoofsaaklik gehuldig vir sy humanisme en filosofiese en politieke geskrifte. Sy aansienlike korrespondensie, grootliks aan sy vriend Atticus gerig, was besonder invloedryk, en het die kuns van verfynde briefskrywing aan die Europese kultuur bekendgestel. Cornelius Nepos, biograaf van Atticus in die eerste eeu v.C., het opgemerk dat Cicero se briewe sodanige rykdom van besonderhede bevat "rakende die ingesteldhede van leiersfigure, die foute van generaals en die omwentelinge van die regering" dat die leser daarvan weinig bykomende geskiedskrywing van die era benodig.[5] Cicero se toesprake en briewe is van die belangrikste eietydse bronne wat oorleef rakende die laaste dae van die Romeinse Republiek.
Gedurende die woelinge in die laaste helfte van die eerste eeu v.C., wat gekenmerk is deur burgeroorloë en die diktatorskap van Gaius Julius Caesar, was Cicero 'n voorstander vir 'n terugkeer na die tradisionele republikeinse regeringsvorm. Sy loopbaan as staatsman is egter gekenmerk deur inkonsekwente beleid en 'n wispelturigheid in sy standpunte na gelang van die politieke klimaat. Sy besluiteloosheid kon miskien aan sy sensitiewe en beïnvloedbare geaardheid toegeskryf word; hy was geneig tot oorreaksie in die aanskyn van politieke en private veranderinge. "Sou hy maar in staat wees om voorspoed met groter selfbeheersing te verduur en teëspoed met meer vasberadenheid!" het sy tydgenoot C. Asinius Pollio, 'n Romeinse staatsman en historikus, van hom geskryf.[6][7] Cicero het 'n teenstander van Marcus Antonius geword, en 'n reeks toesprake teen hom gerig. Hierna is hy as 'n vyand van die staat geag en is voëlvry verklaar deur die Tweede driemanskap, wat hom in die jaar 43 v.C. om die lewe gebring het.