’n Diktatorskap of diktatuur word gedefinieer as ’n outokratiese vorm van regering waarin die regering beheer word deur een persoon: ’n diktator. Dit het drie moontlike betekenisse:
'n Romeinse diktator het algehele mag gehad tydens noodtoestande. Hul mag was onderworpe aan die wet en moes agterna geregverdig kon word.
'n Regering beheer deur een persoon of ’n klein groepie (oligargie). Hierdie vorm van mag berus geheel en al by die individu of groepie en kan deur dwang of erfenis bekom word. Die diktator(s) kan ook baie van die volk se vryhede wegneem.
Die moderne gebruik van die woord verwys na ’n outokratiese vorm van regering deur 'n leierskap wat nie deur wette, grondwette of ander maatskaplike en politieke faktore aan bande gelê word nie.
Sommige geleerdes meen ’n diktatorskap is ’n regering wat regeer sonder die toestemming van die mense wat regeer word, terwyl totalitarisme ’n staat beskryf wat elke aspek van die volk se openbare en private lewens beheer. Diktatorskap gaan dus oor die bron van die leierskap en totalitarisme oor die omvang van die regeringsmag. In dié betekenis is diktatorskap die teenoorgestelde van demokrasie (waar die volk die leiers kies) en totalitarisme die teenoorgestelde van pluralisme (waar die regering ’n verskeidenheid leefstyle en opinies toelaat).
↑Goldhagen, Daniel Jonah. Worse Than War: Genocide, Eliminationism, and the Ongoing Assault on Humanity. PublicAffairs, 2009. ISBN 1-58648-769-8 p. 53