Editors | |
---|---|
Editors tydens 'n optrede van "All Sparks" by die Mercury-toekenningsgeleentheid in September 2006. | |
Agtergrondinligting | |
Oorsprong | Stafford (Engeland) |
Genres | Indie rock |
Jare aktief | 2002 — hede |
Etikette | Kitchenware, Epic, Play It Again Sam |
Webwerf | editorsofficial.com |
Lede | Tom Smith Chris Urbanowicz Russell Leetch Edward Lay |
Editors is 'n Britse indierockgroep wat in 2002 gestig is en in Birmingham gebaseer is. Die groep het vantevore al as Pilot, The Price, en Snowfield bekend gestaan, en bestaan uit Tom Smith as voorsanger, ritmiese kitaarspeler en klavierspeler, Chris Urbanowicz as hoofkitaarspeler en sintetiseerderspeler, Russel Leetch as baskitaarspeler en agtergrondsang, en Ed Lay as trom- en perkussiespeler, asook as agtergrondsanger. Die groep se styl van duistere indierock word algemeen met die klank van groepe soos Echo and the Bunnymen, Joy Division, Interpol en U2 vergelyk.[1]
Editors het tot dusver twee platinumstatus-ateljeealbums uitgereik waarvan gesamentlik meer as twee miljoen kopieë wêreldwyd verkoop is.[2][3] Die groep se debuutalbum, The Back Room, is in 2005 vrygestel. Dit bevat treffers soos "Munich" en "Blood" en het in die jaar ná die vrystelling 'n Mercury-toekenningsnominasie ontvang. Die volgende ateljeealbum, An End Has A Start, het in Junie 2007 nommer-een posisie op die VK-albumranglys behaal en het die groep 'n Brit-toekenningsnominasie vir Beste Britse Groep besorg.[4] Die album het ook 'n volgende Top-10-treffer gegenereer met "Smokers Outside the Hospital Doors".[5]
Ná die groep se voortdurende sukses op die VK-ranglyste, uitverkoopte konserte en vele optredes by musiekfeeste, is Editors deur die The Mail on Sunday as die tweede grootste Britse musiekgroep, ná Arctic Monkeys, van die 2000-2009-dekade geprys.[6]