Eenhoring

'n Fresko van 'n eenhoring en meisie deur Domenichino, omstreeks 1604-'05 (Palazzo Farnese, Rome).[1]
17de-eeuse houtsneewerk van 'n eenhoring.

Die eenhoring is 'n legendariese wese wat sedert die Oudheid beskryf word as 'n dier met 'n enkele, groot, gepunte horing met spirale wat uit sy voorkop steek.

In Europese letterkunde en kuns word die eenhoring al sowat duisend jaar uitgebeeld as 'n wit perd- of bokagtige dier met 'n lang, reguit, spiraalagtige horing, gesplete hoewe en soms 'n bokbaard. In die Middeleeue en Renaissance is dit algemeen beskryf as 'n uiters wilde wouddier, 'n simbool van reinheid en grasie, wat net deur 'n maagd gevang kan word. Soms is die lang slagtand van 'n narwal (eenhoringvis) gebruik as die horing.

Sommige kenners meen 'n beestipe eenhoring is op seëls van die Bronstydperkse Indusvalleibeskawing gebruik, hoewel die vertolking omstrede is. 'n Perdtipe eenhoring is deur verskeie antieke Grieke genoem in beskrywings van die natuurgeskiedenis, onder andere Ctesias, Strabo, Plinius die jongere, Aelianus[2] en Indicopleustes.[3] Die eenhoring word vandag steeds as 'n fantasiedier gebruik.[4]

  1. "Zampieri Domenico, Madonna e unicorno". Fondazione Federico Zeri, University of Bologna.
  2. "Unicorn". Encyclopædia Britannica (11de) 27. (1911). Cambridge University Press. 581–582. 
  3. "Cosmas Indicopleustis - Christiana Topographia (MPG 088 0051 0476) [0500-0600] Full Text at Documenta Catholica Omnia". www.documentacatholicaomnia.eu.
  4. Unicorn, Merriam-Webster Dictionary.

Developed by StudentB