Ekologie

Die woord ekologie beteken letterlik "die studie van die huis" (Grieks: oikos = huishouding + logos = diskoers of studie). Letterlik is ekologie dus die wetenskaplike studie van organismes (plante en diere) in hul huis (natuurlike omgewing), dit wil sê die studie van die verwantskappe en die wisselwerkinge tussen lewende organismes onderling en tussen die organismes en die natuurlike omgewing waarin hulle aangetref word. Kernbegrippe in hierdie definisie soos "verwantskap", "wisselwerking" en "omgewing" dui daarop dat 'n organisme nie in algehele isolasie kan leef nie. Daar bestaan 'n verwantskap en wisselwerking tussen organismes wat saamleef, saam voortplant en op mekaar vir voedsel aangewese is. Sulke organismes leef ook in assosiasie met die grond, die water en die lug. Hulle leef dus in 'n bepaalde omgewing, wat omtrent alles in die laag op en om die aarde kan insluit, sowel lewend as dood, en wat as die biosfeer bekend staan. Die kortste definisie kan dus moontlik as die mees geskikste beskou word, naamlik "ekologie is omgewingsbiologie", aangesien die studie met die biologie van organismes in hul omgewing te doen het. In hierdie verband word daar onderskei tussen outekologie en sinekologie. Eersgenoemde het te doen met die studie van 'n individuele organisme of 'n individuele spesie, terwyl sinekologie die studie van groepe of organismes wat as 'n eenheid bestaan, behels.


Developed by StudentB