Die ekostelsel is die basiese, funksionele eenheid in die ekologie en bestaan uit abiotiese (nie-lewende) komponente en biotiese (lewende) komponente wat mekaar gedurig beïnvloed. Tussen die biotiese en die abiotiese komponente bestaan daar in die ongerepte natuur 'n heel noodsaaklike en delikate ewewig. Hierdie ewewig is van die allergrootste belang, omdat die biotiese en die abiotiese komponente onderling van mekaar afhanklik is en mekaar dus beïnvloed. 'n Versteuring van die een komponent sal dus noodwendig 'n invloed op die ander hê, en ook die ewewig versteur.
'n Deeglike studie van die ekostelsel behels dus 'n studie van sowel die biotiese as die abiotiese komponente. Oral – rondom die werkplek of in tuine en parke – bestaan daar sulke ekostelsels, byvoorbeeld 'n visdam, die gebied rondom 'n waterkraan, die heining rondom 'n gebou, die rotstuin, die park, en so voorts. In elke ekostelsel is daar vier noodsaaklike basiese komponente, naamlik die produseerders (outotrofe organismes – hoofsaaklik groen plante), die verbruikers (heterotrofe organismes), die ontbinders (soms ook mikroverbruikers genoem) en die abiotiese komponente (of fisiese omgewing).