Die Etruskers was 'n historiese etniese groep wat tot die beduidendste Voor-Romeinse beskawing in die antieke Italië en een van die voorste handelsmoondhede in die Mediterreense wêreld ontwikkel het. Die Etruskers het gebiede in Noord- en Sentraal-Italië bewoon waarna as Etrurië verwys word; hul oorsprongsgebied was tussen die riviere Arno en Tiber geleë. Geleidelik het hulle hul magsgebied noordwaarts na die Povlakte uitgebrei waar hulle gesofistikeerde dreineringstelsels ontwikkel het, maar later voor Keltiese stamme moes swig wat hulle daar gevestig het. Hulle het daarnaas ook diep spore in Umbrië en Latium gelaat.
Die Etruskers is deur die Grieke Tyrrhenoi of Tyrsenoi en deur die Romeine Etrusci of Tusci genoem. Die terme Tirreense See en Toscana is van hierdie benamings afgelei. Die Etruskers het na hulself as Rasenna verwys, 'n term wat dikwels verkort is tot Rasna of Raśna.
Die Etruskiese beskawing vorm saam met dié van Antieke Rome en Antieke Griekeland een van die belangrikste kulturele fondamente van die Westerse beskawing. Die werklike omvang van hul bydraes op die gebied van tegnologie, boukuns en geneeskunde is oor 'n lang tydperk onderskat. Sedert die begin van die 21ste eeu is groot vordering gemaak op die gebied van Etruskiese studies en navorsingstegnieke. Argeologiese en wetenskaplike ontdekkings het navorsers in staat gestel om die Etruskiese beskawing, sy tegnologiese prestasies (soos op die gebied van mynbou en metallurgie, tekstielvervaardiging, landbou en eetkultuur) en kuns in 'n heel nuwe lig te sien en meer gespesialiseerde kennis daaroor te verkry.
Nuwe gevorderde metodes van dakstoelkonstruksie word aan Etruskiese boumeesters toegeskryf; hul ingenieurs het gesofistikeerde watertonnels vir onder meer dreinering ontwerp; Etruskiese seilbote was die eerstes wat vir vaarte oor langer afstande met voorseile toegerus is; groot vordering is gemaak op die gebied van metaalvervaardiging en ander sektore waar pirotegnologie 'n belangrike rol speel; terwyl Etruskiese genees- en snykundiges nadoodse ondersoeke kon doen. Op die gebied van kuns kan belangrike tegniese en ikonografiese ontwikkeling deur middel van Etruskiese kunswerke aangewys word wat in grafkamers gevind is, al is hierdie kunstegnieke moontlik oorspronklik elders, in Griekeland of die Nabye Ooste, ontwikkel.
Nogtans word die Etruskers weens die gebrek aan omvattende geskrewe oorlewerings en selfbeskrywings as «geheimsinnig» of «raaiselagtig» beskryf. Ons huidige kennis oor die Etruskers gaan terug op antieke Griekse en Romeinse skrywers en argeologiese opgrawings. Die Etruskiese alfabet en tekste is maklik leesbaar, maar die taal self is nouliks bekend. Die meeste Etruskiese tekste is kort inskrifte op grafstene, terwyl die werke van die Etruskiese literatuur verlore gegaan het. Sommige wetenskaplikes verwys na die verwantskap tussen Etruskies en die oorspronklike taal van die Noordegeïese eiland Lemnos. Die maklikheid, waarmee Etruskers vreemde sedes en gewoontes net soos kunsvorme aanvaar het, bemoeilik nogtans wetenskaplike gevolgtrekkings.
Vreemde kulturele invloede het voortgespruit uit die uitgebreide handels-, maar ook huweliksbande met 'n verskeidenheid oorsese volke wat reeds vroeg deur Etruskiese stede aangeknoop is, onder meer met die Griekse wêreld. So is die meeste vase van Griekse oorsprong nie in Griekeland self nie, maar in Italië gevind. Formele ooreenkomste het eweneens 'n belangrike rol gespeel in kontakte met die buitewêreld. Kulturele en handelsbande kan naas Griekeland en Griekse kolonies in die Middellandse Seegebied aangewys word met Sardinië, Korsika en Sisilië, Italiese stamme op die vasteland, koninkryke in die Nabye Ooste, Iberië, Gallië, en die Puniese netwerke in Afrika. Daanaas is invloed ook op beskawings in Noord-Europa uitgeoefen.
Min is bekend oor die oorsprong van die Etruskiese volk. Sommige navorsers beweer dat antieke mites, waarvolgens die Etruskers nasate van setlaars uit Troja in Klein-Asië is, moontlik 'n historiese agtergrond het. Omstrede genetiese studies dui op Anatolië as moontlike oorsprongsgebied. Die probleem met hierdie soort studies is egter dat bewoners van die huidige Toskane geen genetiese ooreenkomste met antieke Etruskers toon nie. Ander wetenskaplikes neem aan dat die Etruskiese beskawing outogtoon, dit wil sê inheems aan Italië is. Die Etruskiese beskawing dateer in elk geval uit 'n prehistoriese tydperk nog voor die stigting van die stad Rome en het in die tydperk van die Romeinse Republiek uiteindelik volledig met die Romeinse beskawing versmelt, waarby ook die Etruskiese taal verlore gegaan het. 'n Groot aantal kunswerke en ander voorwerpe het die Romeinse verowering egter oorleef, en die Etruskiese kultuur, godsdiens, argitektuur en regstelsel het 'n groot invloed op die Romeinse beskawing uitgeoefen.