Frankenstein

Frankenstein; or, The Modern Prometheus is 'n roman van 1818 deur die Engelse skrywer Mary Shelley. Frankenstein vertel die verhaal van Victor Frankenstein, 'n jong wetenskaplike wat in 'n onortodokse wetenskaplike eksperiment 'n intelligente wese skep. Shelley het die storie begin skryf toe sy 18 jaar oud was, en die eerste uitgawe is op 1 Januarie 1818, toe sy 20 was, naamloos in Londen gepubliseer. Haar naam verskyn die eerste keer in die tweede uitgawe, wat in 1821 in Parys gepubliseer is. Shelley het in 1815 deur Europa getoer. Sy het met die Ryn in Duitsland langs gereis en Gernsheim besoek, wat 17 km van Frankenstein-kasteel af is. Vroeër het 'n alchemis (Johann Konrad Dippel, 1673-1734) daar eksperimente gedoen. Sy vertrek van daar na Genève, Switserland, waar 'n groot deel van die verhaal afspeel. Chemiese eksperimente en die okkultisme was gespreksonderwerpe van haar medereisigers, onder andere haar toekomstige man, Percy Shelley. In 1816 het Mary, Percy, John Polidori en Lord Byron 'n kompetisie gehou om te kyk wie die beste rillerverhaal kon skryf. Shelley is geïnspireer om Frankenstein te skryf nadat sy haar 'n wetenskaplike voorgestel het wat lewe skep en met afsku vervul is oor wat hy gedoen het. Hoewel Frankenstein vol elemente van die Gotiese roman en die Romantiese beweging is, meen Brian Aldiss dit is die eerste ware wetenskapsfiksieverhaal. Die roman het 'n aansienlike invloed op die letterkunde en op die moderne kultuur gehad; dit het gelei tot 'n hele genre van rillerstories, rolprente en toneelstukke. Sedert die publikasie van die roman word die naam "Frankenstein" dikwels verkeerdelik gebruik om na die monster te verwys, eerder as na die skepper daarvan.


Developed by StudentB