’n Gasreus is ’n reuseplaneet wat hoofsaaklik uit waterstof en helium bestaan.[1] Gasreuse word soms mislukte sterre genoem, want hulle bevat dieselfde basiese elemente as ’n ster. Jupiter en Saturnus is die Sonnestelsel se gasreuse. Die term was oorspronklik sinoniem met "reuseplaneet", maar in die 1990's is ontdek Uranus en Neptunus is eintlik ’n aparte soort reuseplaneet, omdat hulle hoofsaaklik uit swaarder vlugtige stowwe bestaan (wat as "yse" bekend is). Om dié rede word Uranus en Neptunus nou dikwels geklassifiseer in ’n aparte kategorie, ysreuse.[2]