Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Italië |
Administratiewe gewes | Ligurië |
Provinsie | Genua (GE) |
Koördinate | 44°24′N 08°55′O / 44.400°N 8.917°O |
Stigting | Antieke oudheid |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 240,29 vk km |
Hoogte bo seevlak | 20 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Januarie 2018) | 580 097 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 400/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde seeklimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 15,6 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 8,0 / 23,9 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 1072 mm |
Burgemeester (sindaco) | Marco Bucci |
Amptelike webwerf | genova.it |
Genua (Italiaans: Genova, [ˈdʒɛːnova], ; Liguries: Zêna, [ˈzeːna]) is 'n belangrike hawestad in Noord-Italië, hoofstad van die historiese landskap en administratiewe streek Ligurië en van die huidige provinsie Genua, met sowat 611 000 inwoners. Die agglomerasie van Genua het sowat 878 000 inwoners (2001).[1] Genua is die sesde grootste stedelike nedersetting in Italië en die derde grootste in Noord-Italië. Rofweg die helfte van die Liguriese bevolking is hier saamgetrek. Die stad is die setel van 'n aartsbiskop en 'n universiteit, wat reeds in 1471 gestig is, met sowat 40 000 studente.
Gedurende die Middeleeue was Genua naas Venesië, Pisa en Amalfi een van die vier groot Italiaanse seerepublieke, die Repubbliche Marinare, asook een van die magtigste Europese handelsmoondhede. Gedurende die 11de en 12de eeu was Genua 'n strawwe mededinger van Venesië en Pisa en kon in die 13de eeu 'n tyd lank 'n oorheersende rol in die Middellandse See speel. Genua het sy politieke en kulturele bloeitydperk in die 16de en 17de eeu beleef toe dit onder die welvarendste stede in Europa gereken is, veral tydens die bewind van die doge en vlootadmiraal Andrea Doria (1466−1560) wat Genua se bedeling hervorm en 'n soort adelsrepubliek gevestig het. Genua se status is weerspieël in die elegante paleise wat deur die stad se leidende families langs die Via Garibaldi opgerig is.
Die historiese middestad word onder die grootstes in Europa gereken, onder meer danksy talle historiese paleise wat hier in 'n verskeidenheid boustyle ontstaan het. Een van die vroegste voorbeelde van munisipale stadsbeplanning in Europa mag hier besigtig word – le Strade Nuove, 16de eeuse strate in nuut geboude welvarende kwartiere, en die stelsel van die Palazzi dei Rolli, Renaissance- en barokpaleise wat deur adellikes hier in die laat 16de en vroeë 17de eeu opgerig is, is in 2006 deur Unesco as wêrelderfenisgebiede gelys. Hierdie paleise is oorspronklik deur die Genuese owerheid goedgekeur as amptelike verblyf vir staatsgaste en in besondere lyste (rolli) opgeneem – vandaar die benaming Palazzi dei Rolli.
Vanaf 1990 het Genua 'n ingrypende transformasie ondergaan, soos weerspieël word in die ou hawe of Porto Antico, die historiese spilpunt van Genua se ekonomie en handel. Tussen 1990 en 1992 is dit deur die befaamde Italiaanse argitek Renzo Piano, 'n boorling van Genua, omgeskep in 'n kulturele sentrum en toeristetrekpleister met die tweede grootste seewater-akwarium in Europa, die Acquario di Genova, 'n verskeidenheid musea soos die Galata-seemuseum (Galata Museo del Mare), wat die geskiedenis van seevaart en Genua se verlede as seerepubliek behandel, en hawegeriewe vir jagte en plesierbote. Ter geleentheid van die 500ste jubileum van die eerste Europese verkenning van Amerika deur Christophorus Columbus is hier in 1992 die wêreldtentoonstelling Expo '92 gehou. Twaalf jaar later is Genua as die kulturele hoofstad van Europa van 2004 aangewys.
Weens die stad se ligging op 'n nou kusstrook wat oor 'n afstand van 30 km langs die Italiaanse Riviera strek en deur die Appenyne-bergreeks begrens word, is beboubare persele skaars in Genua. So word in die middestad min uitgestrekte pleine aangetref, maar 'n groot verskeidenheid nou kronkelende straatjies. Selfs die deftige Via Garibaldi met sy Renaissance-paleise bly beperk tot 'n wydte van 7,5 meter. Die meeste woongeboue het tussen sewe en agt verdiepings.
Naas die hawe – een van die belangrikstes in die Middellandse Seegebied wat die welvarende industriële driehoek van Noord-Italië bedien, met Genua, Turyn en Milaan as sy buitepunte – vorm skeepsbou en die yster-, staal-, papier-, tekstiel- en chemiese bedrywe die ekonomiese basis van die stad. Ook voedselverwerking en handel lewer 'n groot bydrae tot Genua se ekonomie.