Geomorfologie

Cono de Arita in Salta, Argentinië.

Geomorfologie bestudeer die ontwikkeling van sowel bestaande as vervloë landskappe, byvoorbeeld klowe en eskarpe wat ontstaan het deur die geologiese prosesse van verwering en erosie. Die Drakensberge en die Visrivier-canyon in Namibië is goeie voorbeelde van geomorfologiese verskynsels.

Die geomorfologie is 'n vertakking van die aardrykskunde wat 'n studie maak van landvorme en hul verandering. Die reliëf van die aardoppervlak is nie onveranderlik nie. Berge, dale en vlaktes is die resultaat van vormende kragte in die aarde en 'n aantal gelykmakende prosesse op die oppervlak.

Die proses van oppervlakverandering gebeur so stadig dat dit nie maklik binne die bestek van 'n leeftyd waargeneem kan word nie. Die enigste tekens dat daar sulke prosesse aan die gang is, is aardbewings, grondverskuiwings en vulkaniese uitbarstings. Invloede van buite wat landvorme kan verander, is onder andere die baie stadige aantasting van die gesteente aan die aardoppervlak deur verwering.

Riviere speel byvoorbeeld 'n baie belangrike rol in die uitskuur van dale en die vorming van valleie. In die hoër bergstreke, en veral in gebiede anderkant die hoër breedtegrade, geskied die vorming van die aardoppervlak in groot mate deur gletserwerking. In woestyngebiede dra die wind weer by tot die ontstaan van sekere landskapvorme, en langs seekuste speel branders 'n baie belangrike rol. Op 'n terrein met 'n skerp helling sal swaartekrag 'n groot hoeveelheid materiaal verplaas. Stromende water, wind en ys het bene wens 'n afbrekende ook 'n opbouende werking. Die gesteentemateriaal wat losgemaak is, kan, nadat dit oor 'n kort of langer afstand meegevoer is, afgeset word.

Koraalriwwe en veenplato 's ontstaan deur biologiese aktiwiteit. In baie landskappe word daar ook oorblyfsels gevind van landvorme wat ontstaan het in totaal ander klimaatstoestande as wat daar vandag in die gebied heers. So het die verskillende ystydperke wel deeglik hul stempel op die landskap van Wes- en Middel-Europa agtergelaat, terwyl daar in die Karoo ook nog duidelike tekens van vroeëre gletserwerking sigbaar is, soos byvoorbeeld die skaaprugbulte by Jakkalswater naby Prieska en die duidelike gletserskrape by Riverton.


Developed by StudentB