Graaf (Duits: Graf, Nederlands: Graaf; vroulik gravin) is 'n adellike titel wat in Frankiese gebiede ontleen is aan middeleeuse Latyn – grāvius wat beteken het “koninklike bestuursamptenaar, toesighouer”. Die Latynse woord is weer afgelei van die Grieks grapheús wat skrywer beteken.[1][2] Die titel is ekwivalent aan die Franse Compte en die Engelse Count en Earl.[3] 'n Graaf het oor 'n gebied wat as 'n graafskap bekend gestaan het geheers.
'n Frankiese graaf was oorspronklik 'n beampte wat slegs uitvoerende gesag gehad het, maar wat sedert die 6de eeu ook voorsitter van die mallus (volksvergadering, regsbank – Lex Salica) was. Aangesien 'n koninklike bestuursamptenaar 'n hoë posisie was en dikwels ook 'n titel gehad het, het die betekenis ontwikkel tot ‘edelman van sekere rang’.[1] Die betekenis ‘toesighouer, bestuurder’ leef voort in die Nederlandse dijkgraaf en Duitse Deichgraf wat verwys na 'n persoon wat behels is met die bestuur van 'n waterskap.[1]
In die Germaanse noorde en ooste van die Frankiese Ryk is die term Grafio gebruik terwyl in die Gallo-Romaanse suide en weste die Latynse comes gebruik is. Dit het aanleiding gegee tot die Duitse Graf, Gräfin en Nederlandse Graaf, Gravin teenoor die Franse Comte, Comtesse, Italiaanse Conte, Contessa, Spaanse Conde, Condesa ens.[4]