Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Hamburg |
Koördinate | 53°33′N 10°0′O / 53.550°N 10.000°O |
Stigting | 810 |
Stadstatus | 1510/1618 Ryksstad |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 755,09 vk km[1] |
Hoogte bo seevlak | 6 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2021) | 1 853 935[2] |
- Bevolkingsdigtheid | 2 522/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 5 395 307[3] |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde seeklimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 9 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 1,3 / 17,4 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 773 mm |
Burgemeester | Peter Tschentscher (SPD) |
Amptelike webwerf | hamburg.de |
Hamburg (Duits: [ˈhambʊʁk], , plaaslik ook [ˈhambʊɪ̯ç'], ; Nederduits: Hamborg, [ˈhaˑmbɔːχ]; Nedersaksies: Hambörg) is die naasgrootste stad in Duitsland na Berlyn. Sy hawe is op een na die grootste in Europa en die negende grootste ter wêreld. Hamburg is die sesde grootste stad in die Europese Unie asook die grootste stedelike nedersetting wat nie as hoofstad van 'n lidstaat fungeer nie. Dit is een van die welvarendste stede in Duitsland en toon die vinnigste bevolkingsgroei van alle Duitse metropole.
Die amptelike naam van die stad, Freie und Hansestadt Hamburg (Nederduits: Friee un Hansestadt Hamborg,[4] Afrikaans: "Vrye en Hansestad Hamburg"), verwys na sy lidmaatskap in die middeleeuse Hanseatiese Bond van stede en sy besondere status as stadstaat en een van Duitsland se sestien deelstate (Bundesländer). Sedert 1982 tree Hamburg op as setel van die Internasionale Seegeregshof, die belangrikste instelling van die Verenigde Nasies in Duitsland.
Die stadstaat en administratiewe gebied van Hamburg het 'n oppervlakte van 755 km² en 'n bevolking van 1,851 miljoen, terwyl 'n bykomende 750 000 inwoners in nedersettings net buite die stadsgrense gehuisves is. Die metropolitaanse gebied van Hamburg (Metropolregion Hamburg) sluit gebiede van die aangrensende deelstate Sleeswyk-Holstein en Nedersakse in, met 'n oppervlakte van 18 100 km² en meer as vyf miljoen inwoners.
Hamburg lê teen drie riviere, die Alster, Bille en Elbe. Eersgenoemde vorm twee kunsmatige mere, die Binne- en Buite-Alster (Binnenalster en Außenalster), wat in die hart van die middestad lê.
Naas die samehangende stadsgebied is daar ook vier eksklawes. Drie klein eilande in die Noordsee (Neuwerk, Scharhörn en Nigehörn), wat sowat 100 kilometer noordwes van Hamburg geleë is maak, net soos die nasionale park Hamburgisches Wattenmeer, deel uit van die stadstaat.