Deelstaat Hawaii Mokuʻāina o Hawaiʻi | |||||
| |||||
Bynaam(e): The Aloha State | |||||
Amptelike taal(e) | Engels, Hawais | ||||
Gesproke taal(e) | Engels (73,4%), Tagalog (5,4%), Japannees (5,0%), Ilokano (4,0%), Chinees (2,0%), Hawais (1,7%), Spaans (1,7%), Koreaans (1,6%) en Samoaans (1,0%) | ||||
Inwonernaam | Hawaiianer | ||||
Hoofstad | Honolulu | ||||
Grootste stad | Honolulu | ||||
Area | 43ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 28 311 km2 | ||||
- Wydte | km | ||||
- Lengte | 2 450 km | ||||
- Water | 11 672 km2 | ||||
- % water | 41,2 % | ||||
- Breedtegraad | 18°55' N tot 28°27' N | ||||
- Lengtegraad | 154°48' W tot 178°22' W | ||||
Bevolking | 40ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 1 428 557 | ||||
- Digtheid | 82,6/km2 13de in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Mauna Kea 4 205 m | ||||
- Gemiddeld | 920 m | ||||
- Laagste punt | Stille Oseaan seevlak | ||||
Toetrede tot die Unie | 21 Augustus 1959 (50ste) | ||||
Goewerneur | Josh Green (D) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Sylvia Luke (D) | ||||
Wetgewer | Hawaii Algemene Vergadering | ||||
- Hoërhuis | Senaat | ||||
- Laerhuis | Huis van Verteenwoordigers | ||||
V.S. Senatore | Brian Schatz (D) Mazie Hirono (D) | ||||
Tydsone | UTC-10 / Somertyd: Geen | ||||
Afkortings | HI US-HI | ||||
Webblad | www.hawaii.gov |
Hawaii (Engels: [həˈwaɪ.i], ; Hawais: Hawaiʻi, [həˈvɐjʔi] of [həˈwɐjʔi]), amptelik die Deelstaat Hawaii (Engels: State of Hawaii; Hawais: Mokuʻāina o Hawaiʻi), is 'n vulkaniese eilandgroep wat sewe groot bewoonde en 125 kleiner onbewoonde eilande behels, asook die 50ste en mees westelike van die Amerikaanse deelstate. Alhoewel die grootste eiland, wat met sy kenmerkende driehoeksvorm byna twee derdes van die totale oppervlak beslaan, ook die naam Hawaii dra, bly Oʻahu met die hoofstad Honolulu die belangrikste en mees digbevolkte eiland – en ook steeds die hoofbestemming vir miljoene toeriste. Ter onderskeiding van die eilandgroep word die eiland Hawaii deur die plaaslike bewoners dikwels Big Island (Groot Eiland) genoem. Hawaii se bynaam is Die Aloha-staat (Engels: The Aloha State).
Hawaii lê suid van die deelstaat Alaska, noord van die Franse eiland Tahiti in Frans-Polinesië en sowat 3 700 kilometer wes van die Amerikaanse vasteland. Alhoewel die eilandgroep polities deel uitmaak van Noord-Amerika, vanweë sy ligging noord van die ewenaar en in geografiese opsig ook nie by die Suidsee-eilande gereken word nie, behoort dit ten opsigte van sy inheemse bevolking en beskawing wél tot Polinesië en vorm dit die noordelike punt van die Polinesiese Driehoek.
Die bewoners van die huidige Amerikaanse deelstaat is 'n mengelmoes van Europese en Oosterse nasies en rasse, terwyl die oorspronklike Polinesiese bewoners vandag in die minderheid is.
Ondanks sy ligging in die Noordelike Stille Oseaan naby die Kreefskeerkring en byna 2 400 kilometer noord van die ewenaar word Hawaii in die algemeen veral deur toeriste as 'n tipiese Suidsee-eiland gereken en dikwels met 'n sorgvrye paradys geassosieer. Gevolglik het Honolulu met sy bekende Waikiki-strand al dekades gelede 'n sinoniem vir moderne Amerikaanse massatoerisme geword. Sowat 60 persent van alle besoekers kom tans uit die Verenigde State en Japan.[1] Nogtans het Hawaii sy natuurskoon danksy die omgewingsbewustheid van sy inwoners bewaar.