Herakleitos | |
Portret van Herakleitos deur Johannes Moreelse.
| |
Gebore | ca. 535 v.C. Efese, Ionië, Persiese Ryk |
---|---|
Oorlede | ca. 475 v.C. |
Vakgebied | Metafisika, epistemologie, etiek, politiek, Kosmologie |
Bekend vir | Logos, "alles vloei", vuur is die ark, idios kosmos, eenheid van teenoorgesteldes |
Beïnvloed deur | Anaximander, Pythagoras, Bias van Priëne |
Invloed op | Parmenides, Plato, Aristoteles, stoïsisme, Georg Wilhelm Friedrich Hegel, Friedrich Engels, Friedrich Nietzsche, Martin Heidegger, Alfred North Whitehead, Oswald Spengler, Karl Popper, Terence McKenna, Walter Pater |
Herakleitos (Grieks: Ἡράκλειτος, Herakleitos; 540 v.C.— 480 v.C.) was 'n pre-Sokratiese filosoof uit Efese, Ionië. Daar word hy in 'n vooraanstaande familie gebore, en bly sy hele lewe in Efese. Hy staan bekend as 'n melankoliese en hooghartige man wat religieuse en filosofiese tradisies kritiseer. Voorts het hy homself gedistansieer van sy medeburgers en ondanks aandrang, het hy geweier om deel te neem aan die politiek. Hy fokus eerder op die filosofie. Sy filosofie, wat hy opteken, poog om die dinamiese eenheid van alles te openbaar. Tog stig hy nie 'n skool nie en verkondig hy nie sy leer in die openbaar nie. Volgens hom moet die mens moeite doen om die waarheid te vind.
Herakleitos se filosofie word meestal geken deur die aanhalings en parafrase van latere outeurs. Daaruit blyk dit relativisties en proses-filosofies georiënteerd te wees. Die kern van sy leer sluit in die beginsels van eenheid sowel as die stryd en wording om te wees. Hy stel dat alles uiteindelik 'n eenheid vorm, maar wel tot stand kom op 'n dialektiese wyse danksy die beginsel van stryd. Waargenome verandering in die wêreld kom voort uit die transformasie van elemente, met vuur as oersubstansie. Sodoende was alles altyd in beweging en dus in wording. Vandaar die stelling: 'Alles vloei'. Niks behoort volgens hom egter die gepaste maatstaf te oorskryf nie. Alles en iedereen moet volgens Herakleitos sy plek in die kosmos ken. Vir die mens lê die weg na vrede daarin.
Dié pre-Sokraat word bekend as 'die duistere' omdat hy sy filosofie in moeilike, kernagtige en assosiatiewe bewoording op skrif stel. Die teks het 'n literêre karakter, met dubbelsinnigheid, alliterasie en woordspelings. Hiermee bemoeilik hy opsetlik die interpretasie van sy teks. Mense moet, vind hy, moeite doen om sy filosofie te begryp, net soos die mens moeite moet doen om die natuur te deurgrond. Hierdie styl vul sy gedagtegoed aan. Dubbelsinnigheid suggereer eenheid, paradokse suggereer die eenheid van teenstellings, alliterasie suggereer harmonie, ensovoorts.
Die filosofie van Herakleitos word bekend na sy dood en het 'n invloed in die klassieke denke van die oudheid. Onder andere Plato, Aristoteles, die Epikureers, Neoplatoniste en Kerkvaders verwys na hom, maar spesifiek die stoïsisme neem Herakleitos se idees oor vir hul eskatologie. In die Middeleeue was daar weinig belangstelling. In moderne tye het hy wel 'n invloed op filosowe soos Friedrich Nietzsche, Martin Heidegger en dialektiese denkers soos Georg Wilhelm Friedrich Hegel, en op skrywers soos Jorge Luis Borges, Harry Mulisch en Hugo Claus.