Hipparchos | |
---|---|
Gebore | ca. 190 v.C. Nicaea |
Sterf | ca. 120 v.C. |
Beroep | sterrekundige, wiskundige, geograaf |
Hipparchos (Grieks: Ἵππαρχος; c. 190 v.C. – c. 120 v.C.) was 'n Griekse astroloog, sterrekundige, geograaf en wiskundige van die Helleense era. Hy word beskou as die grondlegger van driehoeksmeting.[1] Hipparchos is gebore in Nicea (tans Iznik, Turkye), en is waarskynlik oorlede op die eiland Rhodos. Dit is bekend dat hy 'n aktiewe sterrekundige was minstens van 147 tot 127 v.C.. Hipparchos word beskou as die vernaamste antieke sterrekundige waarnemer en, deur sommige, selfs allerweë as die grootste sterrekundige van die oudheid. Hy was die eerste van wie kwantitatiewe en akkurate modelle vir die beweging van die son en maan behoue gebly het. Hiervoor het hy sekerlik gebruik gemaak van die waarnemings en miskien ook die wiskundige tegnieke wat oor eeue heen deur die Chaldeërs van Babilonië saamgestel is. Hy het driehoeksmeting ontwikkel en het tafels daarvoor opgestel, en het verskeie probleme in sferiese driehoeksmeting opgelos. Met sy son- en maanteorieë en sy driehoeksmeetkunde, mog hy die eerste wees om 'n betroubare metode te beraam vir die voorspelling van sonsverduisterings. Na bewering was hy ook die ontdekker van die aarde se presessie, die samesteller van die eerste omvattende sterkatalogus van die westerse wêreld, en moontlik die uitvinder van die astrolabium, benewens die armillarium, wat hy aangewend het om heelwat van die sterkatalogus saam te stel. Drie eeue sou verloop voor Claudius Ptolemeus se sintese van sterrekunde die werk van Hipparchos sou oorskadu; waaraan dit in vele opsigte ook heelwat verskuldig was.