Imam (Arabies: إمام, imām; meervoud: أئمة, aʼimmah) of imaam is 'n Arabiese term met verskeie betekenisse. In die Koran verwys dié term na 'n "model", "leiding" of "leier". In die tradisionele Islamitiese staatsteorie van die Sjia verwys die term na die godsdienstig-politieke leier (as 'n geestelike hoof) van die Islamitiese gemeenskap en opvolger van die profeet Mohammed (Ahl al-Bayt). Daarbenewens word die gebedleier tydens die Vrydaggebed in die moskee (as 'n priester of hoof van die kultus) imam genoem, veral onder Soennitiese Moslems. Laastens word die term as 'n eretitel vir belangrike Islamitiese geleerdes en persone gebruik.
In die Soennitiese tradisie word elke dag se vyf Salatgebede, wat op elke plek verrig kan word, deur 'n imam gelei. Indien twee of meer mense 'n gebed verrig, word die teks en bewegings deur die imam voorgegee en die ander gelowiges volg sy voorbeeld. Vir die Vrydaggebed, wat net in 'n moskee kan plaasvind, word 'n imam benoem, wat dié gebed sal lei.
Volgens die Twaalfer-Sjiisme en die Ismailisme het Allah twaalf imams as perfekte voorbeelde vir die gelowiges gekies wat die hele mensdom in alle aspekte van die lewe sal lei. Die laaste en twaalfde imam is die verborge Mohammed al-Mahdi wat saam met Isa (Jesus van Nasaret) sal terugkeer om die aarde van die Antichris (al-Masih ad-Dadjdjal) te bevry.[1]