| |||||
Nasionale leuse: استقلال، آزادی، جمهوری اسلامی Esteqlāl, Āzādi, Jomhuri-ye Eslāmi (Persies vir: "Onafhanklikheid, vryheid, Islamitiese Republiek")[1] | |||||
Volkslied: مهر خاوران Mehr-e Xāvarān (Persies vir: "Die oostelike son") | |||||
Hoofstad | Teheran | ||||
Grootste stad | Teheran | ||||
Amptelike tale | Persies | ||||
Regering | Unitêre teokratiese Islamitiese republiek Ali Khamenei Masoud Pezeshkian Mohammad Reza Aref | ||||
Onafhanklikheid Vereniging[2]
• Mediese Ryk • Achaemenidiese Ryk • Sassanidiese Ryk[3] • Safawidiese Ryk • Islamitiese Republiek • Huidige grondwet • Grondwetlike wysiging |
625 v.C. 550 v.C. 224 1501[4] 1 April 1979 24 Oktober 1979 28 Julie 1989 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 648 195[5] km2 (19de) 636 372 myl2 1,63 (2015)[6] | ||||
Bevolking - 2024-skatting - 2013-sensus - Digtheid |
88 386 937[5] (17de) 77 176 930[7] 53,6 / km2 (132ste) 138,9 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,780[9] (78ste) – hoog | ||||
Gini (2022) | 34,8[10] – medium | ||||
Geldeenheid | Rial (ريال) (IRR )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
IRST (UTC+03:30) Iranse Somertyd (UTC+04:30) | ||||
Internet-TLD | .ir ایران. | ||||
Skakelkode | +98 |
Iran (Persies: ایران, Irān, [ʔiːˈɾɒːn], ), amptelik die Islamitiese Republiek Iran (جمهوری اسلامی ایران, Jomhuri-ye Eslāmi-ye Irān, ), is 'n land in die Midde-Ooste, wat deur Azerbeidjan, Armenië en Turkmenistan in die noorde, Pakistan en Afghanistan in die ooste en Turkye en Irak (Koerdistan) in die weste begrens word. Die land het vroeër in die Westerse lande as Persië bekendgestaan.
Met 'n oppervlakte van meer as 1,6 miljoen km² is Iran die 19de grootste land ter wêreld met 'n etnies diverse bevolking van 82 miljoen. Dit bevat 'n wye verskeidenheid landskapsvorme, maar bestaan oorwegend uit bergagtige landskappe en woestyne. So is dit juis die randstreke van Iran waar die grootste deel van die bevolking saamgetrek is en wat die grootste bydrae tot die land se bruto binnelandse produk lewer:
Daartussen lê die Kavir- en Lut-woestyn en die bergreekse langs Iran se grense: die uitgestrekte groen Zagros-bergreeks en -plato in die weste vorm 'n natuurlike grenslyn met Irak; in Noord-Iran toring die ruwe, sneeubedekte Elboers-berge tussen die kusvlakte van die Kaspiese See en die Sentrale Hoogland uit; langs die Persiese Golfkus in die suide word die Makran-bergketting in die gelyknamige halfwoestyn aangetref; en in Oos-Iran word die landskapsvorme deur die mees westelike uitlopers van die Hindoekoesj-gebergte oorheers.
Geologies lyk Iran se berglandskappe op 'n reuse skottel wat onderstebo gekeer is. Hierdie reliëf veroorsaak uitsonderlike klimaattoestande. So ontvang nedersettings, wat wél op dieselfde breedtegraad, maar aan weerskante van 'n bergreeks geleë is, ongelyke vlakke van reënval. Dezful, wat in die westelike deel van die Zagros-reeks op 143 meter bo seevlak geleë is, kry gemiddelde jaarlikse neerslae van 358 millimeter, terwyl Isfahan, wat op die oostelike Zagros-plato geleë is, net 108 millimeter kry.
Die groot woestynbekkens is selfs nog droër; hulle is 'n wêreld van uiterstes wat diere en plante min kanse vir oorlewing bied. Stede in die binneland is op 'n gesofistikeerde netwerk van tonnels en kanale aangewese om ondergrondse watervoorrade te ontgin. Hierdie voorrade word deur damme soos dié van Dezful in die Dezrivier aangevul.
Iran, waar een van die oudste beskawings ontstaan het, het van oudsher sy onafhanklikheid gehandhaaf, alhoewel die land tydelik onder Britse, Russiese en Amerikaanse invloed gestaan het. Die Westersgesinde, outoritêre, maar ook sekulêre monargistiese bewind van Mohammad Reza Sjah Pahlavi is in die Irannese Rewolusie van 1979 omvergewerp. Die nuwe geestelike leier, ajatolla Ruhollah Khomeini, het as integrasiefiguur van 'n breë opposisiebeweging gedien waarin uiteenlopende politieke groepe verenig is.
Interne magstryde en die oorlog met Irak, wat in September 1980 met 'n Irakse aanval begin het en agt jaar sou voortduur, het uiteindelik 'n unieke hibriede politieke bedeling laat ontstaan met 'n Grondwet waarin republikeins-demokratiese en teokraties-outoritêre elemente verenig is, alhoewel die politieke lewe tans deur die laasgenoemde oorheers word.[11]
Ondanks sy ideologiese teenstrydighede, binne- en buitelandse krisisse, 'n groeiende opposisiebeweging (die sogenaamde Groen Beweging) en die interne rigtingstryd in die heersende politieke en godsdienstige kringe is die politieke ontwikkeling van die Islamitiese Republiek van Iran, soos dit sedert 1979 bekendstaan, in die eerste drie dekades van sy bestaan deur betreklike stabiliteit gekenmerk.
Alhoewel Iran steeds onder die ontwikkelende lande gereken word, het dit 'n hoogs gesofistikeerde tegnologiebedryf ontwikkel en beskik daarnaas oor die grootste reserwes van aardgas en die wêreld se vierde grootste bekende reserwes ru-olie. Danksy sy ekonomiese en strategiese ligging het Iran tot 'n streeksmoondheid in die Midde-Ooste ontwikkel.
Terwyl Iran nie daarin geslaag het om sy model van 'n Islamitiese republiek ook vir ander lande met 'n Moslembevolking aantreklik te maak nie, deel die land sekere ooreenkomstige kenmerke met Arabiese state soos Tunisië en Egipte wat 'n skielike politieke omwenteling in die sogenaamde Arabiese Lente ondergaan het: 'n goed opgeleide generasie van jong mense wat skraal kanse het om werk te kry, salarisse en lone wat nie tred kan hou met die stygende inflasie nie, en miljoene mense wat onder die broodlyn leef. Net soos in ander lande is daar 'n klein bolaag van welvarendes wat hulself van die aspirasies van die menigte vervreem het.