Isotope is vorme van 'n element waarvan die kerne dieselfde atoomgetal -- die aantal protone in die kern -- maar verskillende atoommassas het want hulle bevat verskillende aantal neutrone. Díe verskil het baie min gevolge vir die chemiese eienskappe.
Die woord isotoop kom van die Grieks iso- = gelyk, en topos = plek, dus op dieselfde plek en dui op die feit dat alle isotope op dieselfde plek op die periodieke tabel aangetoon word.
Saam vorm die isotope van die elemente die reeks nukliede. 'n Nuklied is 'n spesifieke soort atoomkern of meer algemeen gesproke 'n versameling van protone en neutrone. Streng tegnies gesproke is dit meer korrek om te sê dat 'n element soos fluoor bestaan uit 'n stabiele nuklied eerder as om te sê dat dit 'n stabiele isotoop het.
Isotope (nukliede) word in wetenskaplike nomenklatuur gespesifiseer deur die naam van die spesifieke element gevolg deur 'n koppelteken en die aantal nukleone (d.w.s. protone en neutrone) in die atoomkern (bv., helium-3, koolstof-12, koolstof-14, yster-57, uraan-238. In simboliese vorm word die aantal nukleone as 'n boskrif voorvoegsel van die chemiese simbool. Die aantal protone kan alternatiewelik as onderskrif bygevoeg word vir meer duidelikheid. Die volgende is voorbeelde: