Dié artikel het bykomende verwysings nodig vir verifikasie. |
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Armenië |
Koördinate | 40°10′N 44°31′O / 40.167°N 44.517°O |
Stigting | 782 v.C. |
Oppervlak: | |
- Totaal | 227 vk km |
Hoogte bo seevlak | 989 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2017) | 1 075 800 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 824/vk km |
Tydsone | UTC +4 |
- Somertyd | UTC +5 |
Burgemeester | Tigran Avinyan |
Amptelike webwerf | yerevan.am |
Jerewan (Armeens: Երևան/Jerewan [jɛɾɛˈvɑn] , as amptelike Oos-Armeense naam, of Երեվան volgens die tradisionele spelling, meestal gebruik deur die Wes-Armeense diaspora) is die hoofstad en grootste stad van Armenië met 'n oppervlakte van 227 vierkante kilometer en 'n bevolking van 1 075 800 in 2017. Jerewan is die ekonomiese, kulturele en wetenskaplike sentrum van die land en vorm vanweë sy grootte – meer as 'n derde van die totale Armeense bevolking is hier saamgetrek – 'n eie provinsie.
Jerewan se geskiedenis dateer terug na die 8ste eeu v.C. en die stigting van die Urarteïese vesting Erebuni in 782 v.C., wat van Jerewan een van die oudste stede ter wêreld maak. Die stad spog met talle historiese geboue, beeldhouwerke en fonteine, en sy pragtige argitektuur word deur 'n kleurryke mengsel van materiale – tufsteen, tragiet en basalt in alle skakerings – gekenmerk.
Die stad is ook een van die belangrikste kulturele sentrums ter wêreld. Hier word een van die uitnemendste versamelings historiese manuskripte bewaar: Die Matenaderan-sentrum se unieke versameling van ou handskrifte bevat waardevolle inligting oor die geskiedenis, kultuur en wetenskap van Armenië, die Midde-Ooste, Griekeland en Rome. In 2012 is Jerewan as Unesco se wêreldboekhoofstad benoem.