Kano’s word beskryf as bootjies wat aanvanklik uitgeholde boomstompe was en onder andere deur die Inuïete (Eskimo’s), die inheemse mense van onder meer van Noord-Kanada, Alaska, Groenland en selfs Denemarke, as vervoermiddel gebruik is. Die latere weergawe het bestaan uit ’n houtraam bedek met huide of selfs ligte boombas in sekere wêrelddele. Dit is deur ’n spaan aangedryf, soos dit steeds die geval is in moderne kano’s.
Dit val op dat die vroeë inwoners van lande soos Brasilië en Venezuela ook boomstompe uitgehol het en hul vaartuie met raamwerk binne en dun boompies of dik takke versterk het. Die Walliese mandjieboot (Engels: coracle) het op dieselfde beginsel gewerk. In primitiewe Europa is stabiliteit van die kano verkry deur gewigte in die middel daarvan te plaas.