Die term Kathaar (ook gespel Kataar[1] of Kathar,[2] letterlik die "Reine", afgelei van Grieks katharos "rein") verwys na 'n aanhanger van die Christelike beweging, wat tussen die 11de en 14de eeu veral in Suid-Frankryk, Italië, Katalonië en Duitsland uitgebrei het. Dikwels word in plaas van Kathare ook die naam Albigense (of Albigensers) gebruik – 'n verwysing na die Suid-Franse stad Albi, 'n bolwerk van die Katharisme. Die Kathare is deur die Inkwisisie vervolg en in 'n bloedige kruistog uitgewis.
Die Kathare was naas die Orde van die Tempeliers een van twee religieuse bewegings wat deur die 13de eeuse Rooms-Katolieke Kerk en die Noord-Franse owerhede as 'n uitdaging beskou en uitgewis is.[3] Maar terwyl die Tempelridders alle beskuldigings summier van die hand gewys het en ontsteld was oor die aanklagtes teen hulle, was die Kathare bereid om hul lewens te offer vir die leerstellings wat hulle as die ware Christelike geloof beskou het.
Die Noord-Franse kruistog teen die Kathare van Suid-Frankryk is uiteindelik eerder om politieke en ekonomiese as om religieuse redes gevoer en was 'n tipiese voorbeeld van Middeleeuse magsbeleid. Nogtans het die Kathare sentrale dogmas van die Rooms-Katolieke Kerk bevraagteken en verwerp; hulle het die stamgod Jehovah van die Bybelse Ou Testament as wraaksugtig en primitief beskou en sodoende 'n nuwe Christelike boodskap verkondig wat die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk regstreeks bedreig het.