'n Katrol is 'n wiel met 'n groef of gleuf aan sy kant om 'n tou, 'n kabel of 'n band daarom te kan span. Katrolle word gewoonlik saam in stelle gebruik om die hoeveelheid krag wat benodig word om 'n voorwerp van massa op te tel te verminder.
Dieselfde hoeveelheid werk word egter vereis om 'n vrag dieselfde hoogte op te lig as wat it sou vereis het sonder die katrolle. Die grootte van die krag word wel verminder maar die krag moet oor 'n groter afstand toegepas word. Die krag wat benodig word om 'n massastuk op te tel kan rofweg bereken word deur die massa van die las te deel deur die aantal katrolle. Hoe meer katrolle daar is hoe minder doeltreffend word die stelsel as gevolg van wrywing tussen die tou en die katrolle. Katrolle is een van die ses eenvoudige masjiene.
Daar is nie opgeteken presies wanneer die eerste katrol ontwikkel is nie, maar daar word geglo dat Archimedes die eerste takelblok katrolstelsel ontwikkel het na aanleiding van geskrifte deur Plutarchus.