'n Kerngesin is gesinsgroep wat bestaan uit twee ouers en hul kinders (een of meer).[1] Dit is in teenstelling met enkelouergesinne, 'n groter familiegroep en 'n gesin met meer as twee ouers. Kerngesinne is gewoonlik gesentreer om twee ouers; daar kan enige aantal kinders in 'n kerngesin wees. Sommige kommentators verskil oor die definisie van die woord; party definisies laat net biologiese kinders toe wat volbloed-broers of -susters is,[2] maar ander laat ruimte vir 'n stiefouer of enige mengsel van afhanklike kinders, insluitend stiefkinders en aangenome kinders.[3][4]
Gesinstrukture van 'n getroue paar en hul kinders het in Wes-Europa en Nieu-Engeland in die 17de eeu bestaan, wat beïnvloed is deur die kerk en teokratiese regerings.[5] Met die opkoms van proto-industrialisasie en vroeë kapitalisme het die kerngesin 'n finansieel lewensvatbare sosiale eenheid geword.[6] Die term kerngesin (nuclear family) het die eerste keer in die 20ste eeu voorgekom. Alternatiewe definisies het daaruit voortgespruit om gesinseenhede in te sluit met dieselfdegeslagouers en moontlik bykomende volwasse familielede wat 'n saamleef-ouerrol speel.[7]
Daar is ook omstredenheid oor die begrip "kerngesin". Een kritikus sê: "Dit staan sentraal tot die stabiliteit in die moderne gemeenskap en word bevorder deur familialiste wat sosiale konserwatiste in die Verenigde State is, maar word teengestaan as histories en sosiologies onvoldoende om die ingewikkeldheid van werklike familieverhoudings te beskryf."[8] In Freudian Theories of Identification and Their Derivatives skryf Sigmund Freud: "Min is bekend oor die omvang van die verskillende optredes van pa's en ma's teenoor seuns en dogters, en selfs nog minder oor die moontlike uitwerking daarvan om so verskillend behandel te word." Daar is min bekend oor hoe indentifikasieprosesse teenoor ouers se optrede werk, en hoe kinders seksrolle interpreteer. In sy teorie gebruik Freud "identifikasie" met die pa in die sin dat die seun die seksrol van sy pa sal volg en die pa sal dan in staat wees om die verskil in die "oorkruisseks"-ouer vir sy dogter te identifiseer.
Die geskiedkundiges Alan Macfarlane en Peter Laslett het bevind dat die kerngesin sedert die 13de eeu 'n vername opset in Engeland was. Dié opset het verskil van die normale opset in Suid-Europa, dele van Asië en die Midde-Ooste waar dit algemeen was vir jong volwassenes om in die familietuiste te bly, of in dit te trou. In Engeland was multigenerasie-huishoudings ongewoon omdat jong volwassenes genoeg geld gespaar het om uit te trek na hul eie huishoudings wanneer hulle trou. Die sosioloog Brigitte Berger sê: "Die jong kerngesin moes buigbaar en beweegbaar wees terwyl hulle na geleenthede en eiendom gesoek het. Hul lede is gedwing om op hul eie vindingrykheid te vertrou en moes vir die toekoms beplan en burgerlike gewoontes van werk en spaar ontwikkel."[9] Berge noem ook dat dit een van die redes kan wees waarom die Industriële Revolusie in Engeland en ander Noordwes-Europese lande begin het.
As 'n vrugbaarheidsfaktor het enkel-kerngesin-huishoudings gewoonlik 'n groter aantal kinders as samewerkende lewensreëlings volgens studies van sowel die Weste[10] as Indië.[11]
Daar is al studies gedoen wat toon dat daar 'n verskil in die aantal kinders is wat 'n huishouding wil hê ten opsigte van waar hulle woon. Gesinne wat in landelike gebiede bly, wil meer kinders hê as gesinne in stedelike gebiede. 'n Studie wat in Oktober 2011 en Februarie 2012 in Japan gedoen is, het die uitwerking van die gebied waarin egpare woon op die gemiddelde verlangde aantal kinders nagevors.[12] Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die vroue wat in landelike gebiede bly, meer waarskynlik meer kinders sal wil hê, vergeleke met vroue wat in stedelike gebiede in Japan woon.