'n Kieu is 'n orgaan wat deel uitmaak van die asemhalingstelsel van diere wat in water leef. Kieue dien om gasse met die water waarin die dier lewe, uit te wissel. Opgeloste suurstof word opgeneem en koolstofdioksied word afgegee.
Talle verskillende groepe besit kieue, soos vis, paddavisse, krappe, tweekleppige diere, wurms, ens. en daar is eweveel vorms van kieue.
Die eenvoudigste kieue is uitwendig. Paddavisse het uitgroeisels van die epidermis aan hulle liggame agter hulle kop waardeur hulle asemhaal. Uitwendige kieue is nogtans taamlik kwesbaar. Vis het gewoonlik inwendige kieue wat deur ‘n kieudeksel beskerm word. Die kieue bestaan uit gevoude lae epiteel aan beide sye van 'n reeks sakke wat die farinks met die buitewêreld verbind.
Die kieue van penhaaie het 'n ingewikkelde struktuur wat uit heelparty kieuboë bestaan, 'n konstruksie uit kraakbeen wat die basis van die kieu vorm en die kieuplate ondersteun. Tussen die plate is ongeveer 70 dun lamelle. 'n Slagaar bring bloed van die hart na haarvate van die lamelle wat bedek is met 'n dun laag epiteelweefsel. Die bloed en die water word net deur ‘n laag van ‘n paar selle geskei wat die uitwisseling van gasse moontlik maak. 'n Ander slagaar voer die met suurstof belaaide bloed af. Kieue maak dikwels gebruik van die teenstroomprinsiep. Die rigting waarin die bloed vloei, is die teenoorgestelde van die waterstroom.[1]
Diere wat op die land leef, het gewoonlik longe soos die soogdiere en die mens of hulle het trageë soos die insekte. In die ontwikkeling van die soogdier-embrio is daar nogtans dikwels ‘n fase waarin kieuboë onderskei kan word. Die kake ontstaan uit die eerste kieuboë.