'n Kompas is 'n navigasie-instrument om die rigting ten opsigte van die noorde te bepaal. Die aarde draai in die rigting wat deur die pyl aangedui word - dit wil sê van wes na oos. Dit lyk vir ons of die son soggens in die ooste opkom en deur die hemelboog na die weste oorbeweeg, maar in werklikheid is dit die plek op die aarde waar ons staan wat van wes na oos beweeg.
Die naam van hierdie windrigting, oos, is afgelei van die antieke Indiese woord idh-ta wat “hitte" beteken; die sonsopkoms word geassosieer met die koms van die hitte. Wanneer die son ondergaan, is dit aand. Die antieke Indiërs het dit vassati genoem; die Latynse woord vir aand is vesper (die aandster, Venus, word soms ook Vesper genoem).
Die benaming WES, waar die son ondergaan, is uit bostaande benaminge afgelei. Die rigting lê teenoorgesteld van oos. Dit is weereens die draaibeweging van die aarde wat veroorsaak dat die son agter die horison verdwyn. Die aarde draai soos 'n tol in die rondte sodat dit voorkom asof dit om 'n as roteer. Hierdie denkbeeldige aardas strek van die Noordpool deur die middelpunt van die aarde na die Suidpool.
As ons die aardas van die Noordpool af die lug in verleng, kom ons by die Poolster uit. Daarom weet ons ons kyk NOORD as ons (in die Noordelike Halfrond) na die Poolster kyk. Toe seevaarders van die lande in die noorde in die rigting van die ewenaar begin seil het, het hulle opgemerk dat hierdie gebiede baie warmer is as hul tuislande in Europa.
Om hierdie nuwe gebiede 'n naam te gee, het hulle, elk in hul eie taal, woorde soos sudh, sunno of Sonne – wat almal “son" of “hitte" beteken - gebruik. Met verloop van tyd het ons woord SUID uit hierdie woorde ontwikkel. Soms is dit nodig om 'n rigting met absolute noukeurigheid aan te dui en dan is selfs die tussenpunte op die kompas nie noukeurig genoeg nie.
Die kleinste aanvanklike afwyking in die rigtingshoek groei tot 'n baie groot verskil op 'n groot afstand. Om rigting so akkuraat as moontlik aan te dui, word die volle sirkel van die horison in 360 grade verdeel. Elke graad word in 60 boogminute verdeel en elke boogminuut in 60 boogsekondes. Op hierdie wyse kan die rigting van enige punt op die horison met die grootste noukeurigheid vasgestel word en sal enige aanvanklike fout baie klein wees. Wanneer 'n reisiger in die begin 'n klein foutjie met sy koerspeiling maak, kan dit ook nog gedurende die reis reggestel word.