Lancashire | |
---|---|
Vlag Wapen |
Ligging in Engeland |
Seremoniële graafskap Lancashire | |
Hoofstad | Preston |
Oppervlakte | 3 079 km² |
Bevolking | 1 490 500 (2017) |
Bevolkingsdigtheid | 484 inw./km² |
Administratiewe (nie-metropolitaanse) graafskap | |
Streek | Lancashire |
Administratiewe setel | Preston |
ISO 3166-2: | GB-LAN |
Oppervlakte | 2 903 km² |
Bevolking | 1 201 900 (2017) |
Bevolkingsdigtheid | 413 inw./km² |
Webtuiste | www.lancashire.gov.uk |
Distrikte en Unitêre owerhede | |
|
Lancashire (uitgespreek /ˈlæŋkəʃər/, soms ook /ˈlæŋkəʃɪər/) is 'n nie-metropolitaanse graafskap in die noordweste van Engeland. Die seremoniële graafskap het 'n bevolking van 1 490 500 wat van Lancashire die agtste grootste graafskap volgens bevolkingstal maak.
Lancashire is een van Engeland se historiese graafskappe en genoem na die stad Lancaster. Soms word na die graafskap ook as County of Lancaster (Graafskap Lancaster) verwys. Die graafskapsraad van Lancashire het sy setel tans egter in Preston. Daarnaas word ook Royal Mail (die Koninklike Posdiens) se afkorting Lancs gebruik om na die graafskap te verwys. Die graafskap se bewoners word in Engels Lancastrians genoem.
Die geskiedenis van Lancashire strek terug tot sy stigting in die 12de eeu. In die Domesday Book van 1086 word sommige dele van die huidige graafskap by Yorkshire gereken. Die land wat Inter Ripam et Mersam of "tussen die Ribble- en Mersey-riviere" geleë was, het vir belastingdoeleindes deel uitgemaak van Cheshire. Toe die aanvanklike grense van die nuwe graafskap afgebaken was, het dit aan Cumberland, Westmorland, Yorkshire en Cheshire gegrens.
Lancashire het gedurende die nywerheidsomwenteling tot een van Engeland se vernaamste nywerheids- en handelsentrums ontwikkel. Enkele honderd tekstielmeule en myne is in die graafskap gevestig. In die 1830's is sowat 85 persent van alle katoen, wat wêreldwyd vervaardig is, in Lancashire verwerk.[1] Preston, Accrington, Blackburn, Bolton, Rochdale, Oldham, Chorley, Darwen, Nelson, Colne, Burnley en Wigan was in dié tyd belangrike sentrums van die katoenbedryf, terwyl Blackpool 'n gewilde toeristesentrum vir die werkersgesinne van Lancashire geword het.
As deel van administratiewe hervorming is Lancashire se grense in 1974 ingrypend verander nadat Liverpool en Manchester met hul onmiddellike omgewings deel van die metropolitaanse graafskappe Merseyside en Groter Manchester geword het, terwyl gebiede in die noordelike Lake District, waaronder die Furness-skiereiland en Cartmel, by Cumbria ingesluit is. Die huidige graafskap grens aan Cumbria, Groter Manchester, Merseyside en Noord- en Wes-Yorkshire. Die Hertogdom van Lancaster (Duchy of Lancaster) oefen die regte van die Kroon in die gebied uit wat as County Palatine of Lancaster bekend staan en die graafskappe Lancaster, Groter Manchester en Merseyside insluit.