Kaart | Vlag |
Wapen | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Engeland |
Koördinate | 53°29′N 02°15′W / 53.483°N 2.250°W |
Stigting | 1ste eeu |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 115,6 vk km |
Hoogte bo seevlak | 38 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2019) | 552 858 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 735/vk km |
Tydsone | UTC +0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Burgemeester (Lord Mayor) | Abid Latif Chohan |
Amptelike webwerf | manchester.gov.uk |
Manchester (Engels: [ˈmæntʃɪstər, -tʃɛs-], ) is 'n stad en metropolitraanse borough in die graafskap Groter Manchester in Noordwes-Engeland, Verenigde Koninkryk met 'n oppervlakte van 115,6 km². Die stad is met 'n bevolking van sowat 552 858 in 2019 ná Londen en Birmingham die derde grootste stad van Engeland en vorm die sentrum van Noord-Engeland se grootste metropolitaanse gebied met 'n bevolking van 2,7 miljoen. Die stadsgebied word begrens deur die Cheshire Plain in die suide, die Pennines-bergreeks in die noorde en ooste en 'n groot boog van nedersettings wat met Manchester tot 'n uitgestrekte beboude stedelike gebied saamgesmelt het.
Plaaslike nywerhede het 'n baanbrekersrol gedurende die nywerheidsomwenteling in Engeland gespeel waartydens Manchester van 'n klein nedersetting tot die wêreld se eerste groot nywerheidstad gegroei het. Die eerste spoorwegstasie ter wêreld is hier geopen, en hier het wetenskaplikes vir die eerste keer 'n atoom gesplits en die wêreld se eerste rekenaar ontwikkel wat deur 'n sagtewareprogram in sy geheue bestuur is.
Manchester word daarnaas as die bakermat van die vrouestemregbeweging in die Verenigde Koninkryk en as die stad waar die beginsels van sowel kapitalisme asook marxisme geformuleer is. In Manchester se Chatham-biblioteek – die oudste openbare biblioteek in die Engelsprekende wêreld – het Karl Marx en Friedrich Engels met die skryfwerk vir hul Kommunistiese Manifes begin. Die agteruitgang van die plaaslike tekstielbedryf in die 20ste eeu het ekonomiese swaarkry vir Manchester beteken. Die stad staan tans in die buiteland veral bekend vir die sokkerklub Manchester United en ook vir hul aartsvyande Manchester City.
Die gedokumenteerde geskiedenis van Manchester het met die Romeinse fort of castrum Mamucium begin wat omstreeks 79 n.C. op 'n sandsteenwal naby die samevloeiing van die Medlock- en Irwell-riviere opgerig is. Histories het Manchester deel uitgemaak van Lancashire, alhoewel dele van Cheshire suid van die Merseyrivier gedurende die 20ste eeu by die stad ingesluit is. Die eerste hiervan, Wythenshawe, is in 1931 by Manchester ingelyf.
Gedurende die Middeleeue was Manchester 'n relatief klein nedersetting wat aan 'n landgoed gebonde was, maar vanaf die vroeë 19de eeu het die dorp ongekende groei ervaar. Die grootskaalse uitbreiding van tekstielnywerhede as gevolg van die nywerheidsomwenteling het 'n proses van vinnige en onbeplande verstedeliking aan die gang gesit. Ná die voltooiing van die Bridgewater-kanaal in 1761 – 'n belangrike waterweg vir die vervoer van steenkool – het steeds meer tekstielmeule in Manchester ontstaan wat van die dorp die middelpunt van die Britse tekstielbedryf gemaak het. In 1853 het Manchester stadstatus verwerf.
Manchester se raadsaal (Manchester Town Hall) is in 1877 opgerig, en in 1894 is die Manchester Ship Canal ingewy – indertyd die langste riviernavigasiekanaal ter wêreld wat Manchester se nuwe rivierhawe met die see verbind het. Die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog was 'n periode van industriële agteruitgang. 'n Bomaanval in 1996 het egter die aanleiding gegee tot 'n grootskaalse program van stedelike regenerasie waaruit veral die middestad van Manchester voordeel kon trek.
Vandag is Manchester 'n moderne metropool met 'n waardevolle argitektoniese erfenis, 'n ryk kulturele lewe en 'n florerende moderne ekonomie wat op die mediabedryf, ingenieurswese en wetenskappe baseer. 'n Doeltreffende vervoernetwerk verbind die stad met die res van die land en buitelandse bestemmings. Manchester Airport is die besigste Britse lughawe buite Londen en het bygedra tot die groei van die plaaslike toerismebedryf – Manchester is intussen die derde mees besoekte stad in die Verenigde Koninkryk ná Londen en Edinburg.
'n Aantal tersiêre instellings maak van Manchester 'n sentrum van wetenskaplike opvoeding en navorsing. Die stad se drie universiteite, die Universiteit van Manchester, Manchester Metropolitaanse Universiteit en die Royal Northern College of Music lê almal bymekaar net suid van Manchester se sakesentrum.[2] Tot 2010 is 25 Nobelpryse aan studente, dosente of voormalige studente en dosente van die Universiteit van Manchester toegeken.[3] Ander beroemde wiskundiges van Manchester sluit James Prescott Joule (fisikus), John Dalton (chemikus) en Alan Turing (informatikus) in. Joule en Dalton is oorlede nog voordat die Nobelprys gestig is, terwyl Turing se werk ten tyde van sy afsterwe nog geheim was.