Mixteke | |
---|---|
Die Mixteekse koning en kryger Agt Hert Jaguar Klou (regs) vergader met Vier Jaguar, in 'n voorstelling van die Voor-Colombiaanse Codex Zouche-Nuttall. | |
Totale bevolking: | 830 000[1][2] |
Belangrike bevolkings in: | Meksiko (Oaxaca, Puebla, Guerrero en Chiapas) |
Taal: | Mixteeks en Spaans |
Geloofsoortuiging: | Rooms-Katolieke Kerk met elemente van tradisionele godsdienste |
Verwante etniese groepe: | Indiane en Mestizo |
Die Mixteke (Mixteeks: ñuù savi, nayívi savi, ñuù davi, nayivi davi, letterlik: "volk van die reën"; Nahuatl: Mixtecapan, letterlik: "mense van die wolkeland", of Mixtecatl, letterlik: "wolkevolk"; Spaans: mixtecos) is 'n etniese groep en Meso-Amerikaanse beskawing wat in die hedendaagse Meksikaanse deelstate Oaxaca, Puebla, Guerrero en Chiapas woon. Die historiese middelpunt van die beskawing was La Mixteca in die weste van die deelstaat Oaxaca in Suid-Meksiko langs die kus van die Stille Oseaan.
Die Mixteke vorm met sowat 830 000 mense een van die grootste etniese groepe in Meksiko. Ten tye van die Spaanse verowering van Meksiko (1519–1521) het sowat 1,5 miljoen Mixteke in Meso-Amerika geleef. Hulle het die voorheen Zapoteekse-stede Mitla en Monte Albán oorgeneem en uitgebou. Hulle was veral bekend vir turkooise mosaïeke en goudsmidkuns. Met die opkoms van die Asteekse ryk het sommige van die Mixteekse stede van die Asteke afhanklik geword en laasgenoemde het artefakte as buit geëis. Die Asteke het gereelde Blommeoorloë teen hul buurvolke gevoer en mense as offers vir hul eie gode ontvoer. Die gebied van die Mixteke is saam met die ander Meso-Amerikaanse volke deur die Spaanse conquistadores verower en het deel van Nieu-Spanje geword.
Die Mixteke praat veral Mixteeks as moedertaal. Dit behoort saam met Zapoteeks van die naburige Zapoteke en ander kleiner tale tot Otomangue, een van die primêre taalfamilies van die wêreld. Sedert die Spaanse verowering van Meksiko onder Hernán Cortés dien Spaans as die tweede taal van die Mixteke.