Mizrachi-Jode (Hebreeus: מזרחי, Mizrachi, letterlik: "oostelik"; מִזְרָחִים, Mizrachim), ook bekend as Edot HaMizrach (עֲדוֹת-הַמִּזְרָח; "Gemeenskape van die Ooste"; Hebreeus: ʿEdot(h) Ha(m)Mizraḥ), Bene HaMizrah ("Seuns van die Ooste"), of Oosterse Jode, is afstammelinge van plaaslike Joodse gemeenskappe in die Midde-Ooste van Bybelse tye tot in die moderne era. Hulle sluit afstammelinge van Babiloniese Jode en Bergjode uit die hedendaagse Irak, Sirië, Bahrein, Koeweit, Dagestan, Azerbeidjan, Iran, Oesbekistan, Kaukasus, Koerdistan, Afghanistan, Indië en Pakistan in. Jemenitiese Jode, sowel as Noord-Afrikaanse Jode word soms ook ingesluit, maar hul geskiedenis is afsonderlik van die Babiloniese s'n.
Mizrachi-Jode vorm die tweede grootste en oudste groep binne die Joodse diaspora (Jode buite Israel) met 'n geskiedenis van meer as 2600 jaar.[13] Die eerste gemeentes het met die begin van die Joodse diaspora na die vernietiging van die eerste Tempel van Jerusalem deur Babilonië in 587 v.C. ontstaan.
Die gebruik van die term "Mizrachi" kan ietwat verwarrend wees. Die term Mizrachi word soms toegepas op afstammelinge van Magreb- en Sefardiese Jode, wat in Noord-Afrika gewoon het (Egipte, Libië, Tunisië, Algerië en Marokko), die Sefardiese gemeenskappe van die voormalige Ottomaanse Ryk, en die gemengde Levantynse gemeenskappe van Libanon, Israel en Sirië. Voor die stigting van die Staat Israel het Mizrachi-Jode hulself nie as 'n aparte Joodse subgroep geïdentifiseer nie. In plaas daarvan het Mizrachi-Jode na hulself as Sefardiese Jode verwys, omdat hulle die tradisies van Sefardiese Judaïsme volg (maar met sommige verskille tussen die gebruike van bepaalde gemeenskappe). Dit het gelei tot 'n botsing van terme, veral in Israel en in godsdienstige opsig, met "Sefardies" wat in 'n breë sin gebruik word, insluitende Mizrachi-Jode, Noord-Afrikaanse Jode sowel as Sefardiese Jode. Uit die oogpunt van die amptelike Israeliese rabbinaat val enige rabbyn van Mizrachi-oorsprong in Israel onder die jurisdiksie van die Sefardiese hoofrabbi van Israel.
Soos in 2005 was 61% van die Israeliese Jode van volle of gedeeltelike Mizrachi-afkoms.[14] Van die 3,5 miljoen Mizrachi-Jode wêreldwyd leed sowat 3,2 miljoen in Israel, gevolg deur 250 000 in die Verenigde State. In ander lande leef net 'n kleiner getal van Mizrachi-Jode. Na die stigting van die Staat Israel in 1948 moes sowat 800 000 Mizrachi-Jode uit Arabiese lande soos Egipte, Sirië, Libië en Irak vlug.[15]
Mizrachi-Jode (met tradisionele tale soos Aramees, Arabies en Persies), word onderskei van Asjkenasiese Jode (met hul tradisionele taal Jiddisj), wat afstam van Jode uit Sentraal- en Oos-Europa, en Sefardiese Jode (met hul tradisionele taal Ladino), wat afstam van Jode wat hulle in die Iberiese Skiereiland gevestig het. Die belangrikste verbindende elemente is die gemeenskaplike geloof, Judaïsme, en die gebruik van Hebreeus as liturgiese taal.
↑(en) Jews, Arabs, and Arab Jews: The Politics of Identity and Reproduction in Israel, Ducker, Clare Louise, Institute of Social Studies, Den Haag, Nederland.
↑Gunda Trepp (28 November 2013). "New York – Verschwiegenes Leid" (in Duits). Jüdische Allgemeine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Augustus 2014. Besoek op 16 Mei 2019.