Moskou

Moskou
Москва

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Rusland Rusland
 Federale distrik Sentraal-Rusland
 Ekonomiese streek Sentraal
 Federale subjek Federale stad
 Koördinate 55°45′N 37°37′O / 55.750°N 37.617°O / 55.750; 37.617
 Stigting (eerste verwysing) 1147
 Stadstatus 1147
 Oppervlakte:  
 - Totaal 2 561,5 vk km
 Hoogte bo seevlak 156 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2018) 12 506 468
 - Bevolkingsdigtheid 4 882/km²
 Tydsone UTC +3 (MSK)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentaal-gematig
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 5,0 °C[1]
 - Gem. temp. Januarie/Julie –9,3 / 18,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 688 mm
 Burgemeester Sergei Sobjanin
 Amptelike webwerf http://www.mos.ru/

Moskou (Russies: Москва, Moskva, [mɐˈskva], ) is die hoofstad en die politieke, kulturele en ekonomiese sentrum van die Russiese Federasie. Die stad, wat in die middel van die Europese deel van Rusland in die heuwelland van die Moskwa-rivier geleë is, is met 'n bevolking van 12,5 miljoen in die stadsgebied (soos in 2018) en meer as 15 miljoen (of 'n tiende van die totale Russiese bevolking) in die metropolitaanse gebied en 'n oppervlakte van 2 561,5 vierkante kilometer die grootste stad van die land en ook van Europa. Na sy bewoners word in Afrikaans as Moskouers of Moskowiete verwys.

Noordportaal van die Oespenski-katedraal
Die Kremlin tydens die Oorwinningsparade op 9 Mei 2012. Volgens 'n ou Russiese spreekwoord "troon die Kremlin bo die stad, en bo die Kremlin troon net God". Die historiese tsaresetel, wat onder Europa se veiligste en feitlik oninneembare vestings gereken word, het ook in die kommunistiese tydperk die politieke magsentrum gebly
'n Nuwe Moskou het verrys: Wolkekrabbers in Moskva-Siti. In Sowjettye nog berug vir die monotonie van sy grys woonstelblokke, het Moskou tot 'n bonte en elegante metropool ontwikkel waarna reeds as "dinamiese hoofstad van Europa" verwys word[2]
In 2019 nuut voltooide residensiële komplekse langs die Sjelepichinskaja-oewer
Mercury City Tower in Julie 2016

Die eerste verwysing na Moskou kom in 'n kroniek uit die jaar 1147 voor. Met die ontstaan van 'n Russiese Ryk omstreeks 1300, waarvan Moskou in die 15de eeu die hoofstad geword het, het Moskou vinnig tot die beduidendste metropool in Rusland gegroei. Selfs nadat die administratiewe sentrum van Rusland deur Pieter die Grote in 1712 na Sint Petersburg verskuif is, is Russiese heersers steeds in Moskou gekroon en het die stad die ekonomiese en geestelike spilpunt van Rusland gebly. Die Russies-Ortodokse patriarg het sy setel sedert 1598 in Moskou.

Die stadskern word gevorm deur die Kremlin-vesting uit die 15de en 16de eeu en Rooiplein (wat in 1990 tot wêrelderfenisgebied verklaar is), met die Lenin-mausoleum, die 16de eeuse Sint Basilius-katedraal met sy nege koepels, die afdelingswinkel GUM (1888–1893) en die Historiese Museum wat tussen 1878 en 1883 ontstaan het. Moskou het in 1918 die hoofstad van die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) geword, daarna tussen 1922 en 1991 as administratiewe sentrum van die Sowjetunie gedien en in 1991 hoofstad van die Russiese Federasie geword.

Die Moskouse stadsgebied het vanuit die Kremlin as politieke magsentrum in konsentriese kringe uitgebrei – volgens die behoeftes van 'n Europese vestingstad wat met stadsmure en versterkings teen potensiële invallers beskerm is. Terwyl stedelike nedersettings in 18de eeuse Europa dikwels ingrypend verander is deur nuwe vorme van stadsbeplanning, is Moskou hoegenaamd nie geraak deur hierdie soort eksperimente nie.

So word Rooiplein omsluit deur die historiese stadskern, moderne strate (Russies "prospekte") en ringstrate met nuwe woonkwartiere (waarby hierdie kringpaaie soos die huidige Tuinring vroeëre stadsmure en versterkings vervang het). Die Nowodewitsji-klooster, wat in die 16de en 17de eeu in die Barokstyl uitgevoer en in 2004 as wêrelderfenisgebied gelys is, is suidwes van die middestad geleë. Die moderne sakesentrum van Moskou het wes van die Kremlin ontstaan; sy argitektuur word oorheers deur 'n groot aantal wolkekrabbers en ander kantoorgeboue, waaronder die Federatsija-toring wat in 2007 as die hoogste wolkekrabber in Europa voltooi is.

Die binnestad van Moskou is oorspronklik deur 'n aantal voorstede omring, waaronder die ou koopmanskwartier Kitai-gorod (tans die setel van Russiese regeringsinstellings), Beli Gorod (wat na sy wit palisademuur genoem is) en Semljanoi Gorod (na sy ou grondwalle genoem). Die groot stadsbrande wat Moskou in 1552 en 1812 (ná die verowering deur Franse troepe onder Napoleon Bonaparte) verwoes het, het sy vinnige groei nouliks belemmer.

Die Moskouse Danilof-klooster uit die 13de eeu dien as setel van die Russies-Ortodokse patriarg. As die leidende opvoedkundige sentrum van die Russiese Federasie beskik Moskou naas die Akademie van Wetenskappe oor vyf ander vakgebonde akademies, sowat 200 navorsingsinstitute op alle wetenskaplike terreine, ruim 80 tersiêre instellings (waaronder die bekende Moskouse Staatsuniversiteit, ook bekend as die Lomonosof-universiteit, wat in 1755 gestig is) asook talle biblioteke (waaronder die Russiese Staatsbiblioteek).

Die Moskouse museums bevat van die beduidendste kunsskatte ter wêreld. Die bekendste museums sluit in die Poesjkin-museum vir Beeldende Kunste (wat hom onder meer op Wes-Europese skilderkuns toespits) en die Tretjakof-galery met Russiese kuns. Ander beduidende instellings is die Gorki-, Tsjegof-, Lenin-, Tolstoi-, Andrei Roebljof-, die Historiese en Politegniese Museum asook die Museum vir Kuns en Kultuur van die Nabye-Ooste.

Die lang lys kulturele instellings in Moskou word aangevul deur sowat dertig teaters (waaronder die bekende Bolsjoi-teater), rolprentateljees, beduidende uitgewerye, radio- en televisie-uitsaaiers, skouterreine, 'n diere- en 'n botaniese tuin, groot stadsparke soos Gorki-park en sportstadions. Moskou was die gasheerstad van die XXIIste Olimpiese Somerspele 1980. Tans lok die stad jaarliks sowat vyf miljoen besoekers.

Moskou het tot die beduidendste Russiese nywerheidstad ontwikkel. Die belangrikste nywerheidsektore sluit die vervaardiging van motorvoertuie en treinwaens, elektrotegniese en meganiese aanlegte, staal- en metaalvervaardiging, poligrafiese, chemiese, hout-, en tekstielfabrieke, asook voedselverwerking en 'n ruolieraffinadery in. 'n Kernkragsentrale voorsien elektrisiteit aan die metropool. Aardgas word deur pyplyne uit die uitginningsgebiede van Saratof, Stafropol in die Koebanstreek en Dasjawa in Oekraïens-Galisië na Moskou vervoer. Moskou is daarnaas die finansiële sentrum van Rusland – meer as 1 000 bank- en sowat 60 versekeringsmaatskappye het hul hoofkwartiere in die stad.

  1. (de) www.klimadiagramme.de: Moskau
  2. (de) merian.de: Moskau – Dynamische Hauptstadt Europas. Besoek op 12 Desember 2019

Developed by StudentB