Narsissus of Narcissus was in die Griekse mitologie 'n jagter wat bekend was vir sy aantreklikheid wat deur almal, mans en vroue, opgemerk is. Volgens die bekendste weergawe van die storie, deur Ovidius, het Narsissus alle toenaderings van die hand gewys en het hy eindelik op sy weerkaatsing in 'n waterpoel verlief geraak sonder om te besef dit is 'n weerkaatsing. In sommige weergawes slaan hy sy bors pers uit frustrasie omdat hy van sy groot liefde weggehou word. In sy plek het 'n blom met sy naam ('n narsing) te voorskyn gekom.
Van die karakter Narsissus se naam kom die term narsisme, 'n selfgesentreerde persoon. Dié eienskap in die uiterste mate word genoem narsistiese persoonlikheidsteuring, 'n geestestoestand wat gekenmerk word deur oordrewe gevoelens van selfbelangrikheid, 'n oorgroot behoefte aan bewondering en verminderde vlakke van empatie met ander.