Die belangstelling in die Klassieke kuns het gedurende die tweede helfte van die 18e eeu weer opgevlam na die argeologiese vondste by Pompeii en Herculaneum en die teoretiese geskrifte van die Duitse argeoloog Johann Joachim Winckelmann. Die Neo-Klassisisme, wat 'n regstreekse uitvloeisel van hierdie hernieude belangstelling in die Klassieke was, was 'n koel, streng styl wat van Rome deur Europa en van daar na die VSA versprei het. Die Neo-Klassisisme het eers 20 tot 25 jaar later aan die Kaap posgevat. Hoewel die belangstelling in die Neo-Klassisisme na 1800 begin afneem en die Romantiek meer op die voorgrond getree het, het die styl gedurende die hele 19e eeu die amptelike styl van baie akademiese instellings gebly.