Deelstaat Noord-Carolina | |||||
| |||||
Bynaam(e): Tar Heel State, Old North State | |||||
Amptelike taal(e) | Engels | ||||
Gesproke taal(e) | Engels en Spaans | ||||
Hoofstad | Raleigh | ||||
Grootste stad | Charlotte | ||||
Area | 28ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 139 509 km2 | ||||
- Wydte | 340 km | ||||
- Lengte | 900 km | ||||
- Water | 13 222 km2 | ||||
- % water | 9,5 % | ||||
- Breedtegraad | 33° 50′ N tot 36° 35′ N | ||||
- Lengtegraad | 75° 28′ W tot 84° 19′ W | ||||
Bevolking | 10de in die V.S. | ||||
- Totaal | 9 585 483 | ||||
- Digtheid | 68,71/km2 17de in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Mount Mitchell 2 038 m | ||||
- Gemiddeld | 215 m | ||||
- Laagste punt | Atlantiese Oseaan seevlak | ||||
Toetrede tot die Unie | 21 November 1789 (12de) | ||||
Goewerneur | Roy Cooper (D) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Dan Forest (R) | ||||
Wetgewer | Noord-Carolina Algemene Vergadering | ||||
- Hoërhuis | Senaat | ||||
- Laerhuis | Huis van Verteenwoordigers | ||||
V.S. Senatore | Richard Burr (R) Thom Tillis (R) | ||||
Tydsone | UTC -5 / Somertyd -4 | ||||
Afkortings | NC US-NC | ||||
Webblad | www.nc.gov |
Noord-Carolina (Engels: State of North Carolina) is 'n deelstaat in die suidooste van die Verenigde State van Amerika. Dit was een van die oorspronklike dertien deelstate. Die hoofstad is Raleigh en die grootste stad is Charlotte.
Noord-Carolina het 'n bevolking van 10,5 miljoen en 'n oppervlakte van 139 509 vierkante kilometer. Noord-Carolina word in die noorde deur Virginië, in die suide deur Suid-Carolina en Georgia en in die weste deur Tennessee begrens. In die ooste lê die Atlantiese Oseaan. Noord-Carolina is die deelstaat met die grootste inheemse bevolking oos van die Mississippirivier.
Noord-Carolina se byname is Tar Heel State en Old North State. Die staat het oorspronklik bekend gestaan vir sy houtprodukte soos terpentyn en teer (wat uit die hars van dennebome gedistilleer is), maar die groot bosse het in die 19de eeu in groot dele van Noord-Carolina verdwyn om plek te maak vir tabak en katoen. Vandag is Noord-Carolina die Verenigde State se belangrikste produsent van soetpatatte. Ook wingerde word orals in die deelstaat aangetref. Die verskeidenheid kultivars, wat in Noord-Carolina verbou word, is ongeëwenaar op aarde, maar dit is veral die inheemse muscadine-kultivar wat met die Amerikaanse Suide verbind word.
Noord-Carolina was die bakermat van die Verenigde State as Engelssprekende samelewing. Die eerste Engelse verkenners, wat deur Sir Walter Raleigh in opdrag van Koningin Elizabeth I na die Nuwe Wêreld uitgestuur is, het op Bodie Island,[2] waar hulle voet aan wal gesit het, 'n oordaad van druiwe aangetref. Die oudste wingerdstok op Roanoke-eiland, die sogenaamde Mother Vine, se rankplante is deur latere setlaars geplant en tot 'n twintigtal verskillende soorte rooi- en witwyn ontwikkel.[3][4]
Met sy oorspronklik onverbiddelike landskappe van digte bosse, berge sonder bevaarbare waterweë en 'n kuslyn sonder natuurlike hawens was Noord-Carolina een van die moeilikste terreine vir die stigting van 'n Europese kolonie in die Nuwe Wêreld. Nogtans het die eerste Engelse nedersetting in die sestiende eeu op Roanoke-eiland ontstaan. Op 18 Augustus 1587 is Virginia Dare as eerste Engelse kind op Amerikaanse bodem in die Roanoke-kolonie op die gelyknamige eiland langs die kus van die huidige Noord-Carolina gebore. Sy het saam met die ander setlaars, wat almal uit Plymouth in Engeland afkomstig was, spoorloos verdwyn.