Noors norsk | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [nɔʁsk] of [nɔʃk] | |
Gepraat in: | Noorweë | |
Gebied: | Noord-Europa | |
Totale sprekers: | 4,7 miljoen[1] | |
Rang: | 111 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Germaans Noord-Germaans Wes-Skandinawies Noors | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Nordiese Raad Noorweë | |
Gereguleer deur: | Instituut van Noors | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | no
| |
ISO 639-2: | nor
| |
ISO 639-3: | nor
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Noors (norsk [nɔʁsk] of [nɔʃk]) maak deel uit van die Noord-Germaanse tak van die Indo-Europese taalfamilie en word deur sowat 4,7 miljoen mense as moedertaal gepraat, veral in Noorweë waar dit ook as ampstaal dien.
Die Noorse taal is in vier taalvorme gestandaardiseer, waarvan twee amptelike status geniet:
Bokmål/Riksmål, waarna in die omgangstaal dikwels onpresies as Norsk ("Noors") verwys word, word deur tussen 85 en 90 persent van die Noorse bevolking as skryftaal gebruik en het in taalkundige opsig aanvanklik geen selfstandige taal gevorm nie, maar was eerder 'n variant of dogtertaal van Deens wat eers geleidelik by die oorspronklike Noorse woordeskat, spelling en uitspraakgewoontes aangepas is. Riksmål is 'n nie-amptelike variant wat baie ooreenkomste met die gematigde Bokmål toon – dit staan in die tradisie van die Deens-Noorse literatuur en is minder aangepas by die oorspronklike Noorse dialekte.
Nynorsk toon daarenteen meer ooreenkomste met die Wes-Skandinawiese tale Faroëes en Yslands as Bokmål, Deens en Sweeds. Nynorsk word deur tussen 10 en 15 persent van die Noorse bevolking as skryftaal gebruik. Ten spyte van die voorsetsel Ny- ("Nieu-") is Nynorsk of Nieu-Noors die ouere van die twee amptelike Noorse taalvariante.
Høgnorsk word net in baie klein kringe gebesig.
Die twee variante Bokmål en Nynorsk bevat 'n groot aantal elemente wat ook in die Sweedse taal voorkom. Noorweërs, Dene en Swede kan mekaar in die algemeen goed verstaan.