'n Oksied is 'n chemiese verbinding wat ten minste een suurstofatoom en een ander element in sy chemiese formule bevat.[1] Metaaloksiede bevat gewoonlik 'n anioon van suurstof in die oksidasietoestand van -2. Die grootste deel van die aardkors bestaan uit vaste oksiede, die gevolg van elemente wat deur die suurstof in die lug of in die water geoksideer word. Amper al die chemiese elemente vorm verbindings met suurstof. Uitsonderings is edelgasse soos helium of neon. Oksiede van goud is bekend, maar hulle is metastabiel.
Selfs materiale wat as suiwer elemente beskou word ontwikkel dikwels 'n oksiedlaag. Aluminiumfolie ontwikkel byvoorbeeld 'n dun vel van Al2O3 (dit word 'n passiveringslaag genoem) wat die foelie teen verdere korrosie beskerm.[2] Sekere elemente kan meervoudige oksiede vorm, wat verskil in die hoeveelhede van die element en die suurstof. Voorbeelde hiervan is koolstof, yster, stikstof, silikon, titaan en aluminium. In sulke gevalle word die oksiede onderskei deur die aantal betrokke atome soos in koolstofmonoksied en koolstofdioksied, of deur die element se oksidasiegetal soos in yster(II) oksied en yster(III) oksied. In die eintlike oksiede is die oksidasietoestand van die suurstofatoom -2. Die ander element kan in sy hoogste oksidasietoestand voorkom, soos +6 vir swawel in SO3, maar soms is dit ook laer soos +4 in SO2.
Die meeste oksiede is vastestowwe, soms met hoë smelt- en kookpunte, veral die oksiede van die metale, maar oksiede van nie-metale soos CO2 of SO2 is gasse en H2O is 'n vloeistof.