Oksitaans lenga d'òc | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Frankryk Spanje Italië Monaco | |
Gebied: | Suid-Europa | |
Totale sprekers: | 2 miljoen[1] | |
Rang: | 93 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Romaans Wes-Romaans Galloiberies Galloromaans Oksitaans-Romaans Oksitaans | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Katalonië ( Spanje) | |
Gereguleer deur: | Conselh de la Lenga Occitana;[2] Congrès Permanent de la Lenga Occitana;[3] Institut d'Estudis Aranesi[4] | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | oc
| |
ISO 639-2: | oci
| |
ISO 639-3: | oci
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Oksitaans, bekend as lenga d'òc [ˈlɛŋgɔ dɔk] en occitan [utsiˈta] in Oksitaans, langue d'oc in Frans, is 'n plurisentriese Romaanse taal wat in die Suid-Franse provinsies Languedoc, Provence, Limousin, Auvergne, Dauphiné en Gascogne op sowat 'n derde van die Franse staatsgebied asook in Monaco, in twaalf Italiaanse Alpevalleie en in die Katalaanse Val d'Aran gepraat word waar dit amptelike status geniet en ook as Aranees (er aranés) daarna verwys word. As Middeleeuse literêre taal is Oksitaans gewoonlik Provensaals genoem volgens een van sy hoofdialekte.
Die (Noord-Franse) benaming Langue d'Oc – "Taal van die Oc" – verwys na die woord oc (òc in moderne Oksitaans, afgelei van die Latynse hoc waarmee toestemming uitgedruk is) wat suid van die Loire vir "ja" gebruik is. Noord van die rivier was oïl (Oud-Frans, afgelei van die Latynse hoc ille) gebruiklik waaruit die moderne oui sou ontwikkel. Vir Noord-Franse dialekte is die taalkundige term Langues d'oïl ingevoer. Die Oksitaanssprekende gebied is vanaf die laat 13de eeu Oksitanië (Oksitaans: Occitània) genoem.
Van die totale plaaslike bevolking van veertien miljoen het na ramings sowat ses miljoen kennis van Oksitaans, terwyl sowat drie miljoen dit vlot kan praat. Die laaste moedertaalsprekers, wat geen kennis van Frans (die amptelike taal) gehad het nie, is al in die dertigerjare van die twintigste eeu oorlede. Omdat die gebruik van Standaardfrans ook op skool afgedwing is, glo baie ou mense nog steeds dat Oksitaans niks meer as 'n verbasterde plaaslike variant van die Franse taal is nie.
Die presiese beraming van die sprekertal word bemoeilik deur die afwykende kategorisering van Oksitaanse streeksvariante. So word Gaskonies, Limousin, Provensaals, Languedokies, Dauphinois en Auvergnat soms as Oksitaanse dialekte, soms as selfstandige tale geklassifiseer. Die grootste verskille bestaan tans tussen Gaskonies en Provensaals.
Oksitaanse dialekte het uit die Gallies-Romeinse variant van Vulgêrlatyn ontwikkel soos dit in die suide van die voormalige Romeinse Gallië gebesig is. Hulle toon min of geen Frankies-Germaanse invloede – in teenstelling met dialekte noord van die Loirerivier (die historiese vestigingsgebied van Franke). Uit die laasgenoemdes sou die moderne Franse standaardtaal voortspruit, gebaseer op die dialek van die Île de France, die streek rondom Parys. Oksitaans is nader verwant aan Katalaans as aan die moderne Standaardfrans.