Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | DDR |
Administratiewe distrik | Berlyn |
Koördinate | 52°31′N 13°23′O / 52.517°N 13.383°O |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 403 vk km |
Bevolking: | |
- Totaal (1989) | 1 279 212 |
- Bevolkingsdigtheid | 3 174/vk km |
Tydsone | UTC +1/+2 (MET/MEST) |
Die term Oos-Berlyn is in Westerse lande gebruik om na die Sowjetsektor van Berlyn te verwys wat in 1945 ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog geskep is en die oostelike stadsdistrikte behels het. Die drie Westerse (Amerikaanse, Britse en Franse) sektore het as Wes-Berlyn bekend gestaan.
Oos-Berlyn het aanvanklik as die administratiewe sentrum van die Sowjet-besettingsone in Duitsland gedien en het tussen 1949 en 1990 de facto as hoofstad en regeringsetel van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) gefungeer. Die status van Oos-Berlyn was omstrede; volgens die drie westelike Geallieerdes het dit de jure steeds deel uitgemaak van die gedemilitariseerde Berlyn onder beheer van die Geallieerde magte Verenigde State, Verenigde Koninkryk, Frankryk en Sowjetunie, en nie van die Sowjet-besettingsone of DDR nie.
Die Sowjetunie het ná die stigting van die DDR geleidelik begin om Oos-Berlyn as 'n integrale bestanddeel van dié land te beskou, terwyl Wes-Berlyn tot by die Duitse hereniging in 1990 steeds as 'n gebied onder gemeenskaplike Geallieerde beheer behandel is. Vanaf die 1970's het die spesiale status van Oos-Berlyn gevolglik in die praktyk nog nouliks 'n rol gespeel; Oos-Berlynse afgevaardigdes is regstreeks as lede van die DDR-parlement verkies, terwyl diensplig vir Oos-Berlyners ondanks die gedemilitariseerde status van Berlyn ingevoer is.
Die DDR-owerhede het na Oos-Berlyn aanvanklik as die Demokratiese Sektor van Berlyn verwys; later is Oos-Berlyn amptelik Berlin, Hauptstadt der DDR ("Berlyn, Hoofstad van die DDR") of kort Berlin genoem.