'n Outobiografie (van die Griekse, αὐτός-autos self + βίος-bios lewe + γράφειν-graphein om te skryf) is 'n selfgeskrewe vertelling van 'n persoon se lewe. Die woord "autobiography" is in 1797 aanvanklik op neerhalende wyse deur William Taylor in die Engelse koerant, The Monthly Review, gebruik toe hy dit as 'n basterwoord uitgemaak het, maar dit as "pedanties" veroordeel het. Die volgende aangetekende gebruik daarvan in 1809 deur Robert Southey, was egter in die hedendaagse sin van die woord.[1] Alhoewel die term eers in die vroeë negentiende eeu aangeneem is, het eerstepersoon outobiografiese geskrifte reeds in die Antieke tyd ontstaan. Roy Pascal onderskei outobiografie van die periodiese selfondersoekende manier van dagboekinskrywings deur op te merk dat 'n "[outobiografie] 'n oorsig van 'n lewe op 'n bepaalde tydstip is terwyl die dagboek, hoe selfondersoekend ook al, deur 'n reeks tydstipte beweeg".[2] In 'n outobiografie word die outobiograaf se lewe dus op 'n spesifieke tydstip in oënskou geneem. Waar biograwe gewoonlik van 'n groot verskeidenheid dokumente en sienings gebruik maak, is 'n outobiografie dikwels volledig op die skrywer se geheue gebaseer. Ondanks die noue assosiasie tussen memoires en outobiografieë, beweer Pascal dat eersgenoemde geneig is om minder op die self en meer op ander persone gedurende die outobiograaf se oorsig van sy of haar lewe te fokus.